EKSODUS 3:3-10
EKSODUS 3:3-10 Bybel vir almal (ABA)
Moses het gedink: Hier gebeur iets wat ek nog nooit gesien het nie. Ek wil nader gaan en gaan kyk hoekom die bos aanhou brand. Toe die Here sien Moses kom nader om te kyk, het Hy uit die doringbos vir Moses geroep: “Moses! Moses!” En Moses het gesê: “Hier is ek!” Die Here sê toe: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale uit, want die plek waar jy staan, is gewyde grond. Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Moses het sy gesig toegemaak, want hy was bang om na God te kyk. Toe sê die Here: “Ek het gesien my volk kry baie swaar in Egipte. Ek het gehoor hulle roep en vra dat Ek hulle moet help teen die mense wat hulle soos slawe laat werk. Ek is baie jammer vir hulle. Ek wil hulle gaan help teen die Egiptenaars. Ek wil hulle uit hierdie land laat uitgaan na 'n goeie en groot land, 'n land waar daar baie melk en heuning is. Dit is die land waar die Kanaäniete nou woon, en ook die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. Ek het gehoor hoe die Israeliete bid en vir My vra om hulle te help. Ek het gesien dat die Egiptenaars slegte dinge aan hulle doen. Ek wil jou na die farao toe stuur om my volk, die Israeliete, uit Egipte te bring.”
EKSODUS 3:3-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien. En die HERE sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte. Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na 'n goeie en wye land, na 'n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete. En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk. Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit.
EKSODUS 3:3-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
En Moses sê vir homself: “Ek wil tog 'n bietjie nader gaan om hierdie wonderlike verskynsel te bekyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie?” Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos: “Moses! Moses!” En hy antwoord: “Hier is ek.” Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Toe maak Moses sy gesig toe, want hy was bang om na God te kyk. Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem. Daarom het Ek afgekom om hulle uit die mag van Egipte te bevry en om hulle daarvandaan te laat trek na 'n goeie en uitgestrekte land, 'n land wat oorloop van melk en heuning. Dit is die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Die noodkrete van die Israeliete het My bereik, en Ek het ook aanskou hoe Egipte hulle verdruk. Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry.”
EKSODUS 3:3-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe dink Moses, ek moet afdraai, sodat ek na hierdie buitengewone verskynsel kan kyk. Waarom brand die doringbos dan nie uit nie? Toe die HERE sien dat hy afgedraai het om dit van nader te bekyk, het God na hom geroep uit die doringbos: “Moses! Moses!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê die HERE: “Moenie nader kom nie. Trek jou sandale van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond.” Daarop sê Hy: “Ek is die God van jou voorvader, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.” Moses het sy gesig bedek, want hy was bang om na God te kyk. Die HERE sê toe: “Ek het die ellende van my volk wat in Egipte is, duidelik gesien. Hulle noodkreet oor hulle slawedrywers het Ek gehoor. Ja, Ek ken hulle lyding. Ek het afgekom om hulle uit die hand van Egipte te red en hulle uit daardie land te laat optrek na 'n goeie en uitgestrekte land, na 'n land wat oorloop van melk en heuning, die woonplek van die Kanaäniete, die Hetiete, die •Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. En nou, kyk, die noodkreet van die Israeliete het My bereik. Ek het ook die verdrukking waarmee Egipte hulle verdruk, raakgesien. Gaan dan nou! Ek stuur jou na die farao om my volk, die Israeliete, uit Egipte uit te lei.”
EKSODUS 3:3-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê Moses: Ek sal nou afwyk en hierdie groot gesig sien, waarom die doringbos nie verbrand is nie. Toe die HERE sien dat hy omgedraai het om te kyk, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy sê: Hier is ek. En hy sê: Kom nie nader nie; trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. Verder het hy gesê: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. En Moses het sy aangesig verberg; want hy was bang om na God te kyk. En die HERE het gesê: Ek het sekerlik die ellende gesien van my volk wat in Egipte is, en Ek het hulle geroep gehoor oor hulle amptenare; want Ek ken hulle smarte; En Ek het afgekom om hulle uit die hand van die Egiptenaars te red en hulle uit daardie land op te lei na 'n goeie en 'n groot land, na 'n land wat oorloop van melk en heuning; na die plek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete; Nou dan, kyk, die geroep van die kinders van Israel het tot my gekom, en ek het ook die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verdruk. Kom dan nou, en Ek sal jou na Farao stuur, dat jy my volk, die kinders van Israel, uit Egipte kan uitlei.
EKSODUS 3:3-10 Die Boodskap (DB)
Moses het vir homself gesê: “Ek wil ’n bietjie gaan kyk wat hier aangaan. Hoekom brand die doringbos dan nie uit nie?” Toe die Here sien dat hy nader kom om te kom kyk wat gebeur, het die Here uit die doringbos met hom gepraat: “Moses! Moses!” Moses het geantwoord: “Dit is ek, ja.” Die Here sê vir hom: “Jy moenie nog nader kom nie. Trek uit jou sandale. Jy staan nou op ’n plek wat aan die Here behoort. Ek is die God van jou voorouers, die God van Abraham en van Isak en van Jakob.” Moses het toe sy hande voor sy oë gehou, want hy was bang hy moet na die Here kyk. Die Here het vir hom gesê: “Ek het mooi gesien hoe swaar my volk daar in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle skree omdat hulle soos slawe gedryf word. Ek het baie duidelik gesien hoe swaar hulle kry. Ek het nou gekom om hulle weg te vat uit die hande van die Egiptenaars. Ek gaan hulle uit daardie land laat wegtrek na ’n mooi en ’n groot land waar daar volop kos is. Dit is die plek waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik bly. Ek het tot in die hemel gehoor hoe die Israeliete roep dat iemand hulle moet help. Ek het ook gesien hoe die Egiptenaars hulle mishandel. Gaan terug Egipte toe. Ek wil hê jy moet na die farao toe gaan. Jy moet my volk uit Egipte gaan uitlei.”
EKSODUS 3:3-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Dit is snaaks,” het Moses vir homself gesê. “Hoekom brand die bos dan nie uit nie? Laat ek gaan kyk wat aangaan.” Toe die HERE sien dat Moses nader kom om ondersoek in te stel, het Hy uit die bos na hom geroep: “Moses, Moses!” “Dit is ek, ja,” het Moses geantwoord. “Moenie nog nader kom nie,” het die HERE vir hom gesê. “Trek uit jou sandale. Die plek waarop jy staan, is heilige grond.” God sê toe vir hom: “Ek is die God van jou voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Toe Moses dit hoor, het hy sy hande voor sy gesig gehou. Hy was bang om na God te kyk. HERE Die HERE sê toe vir hom: “Jy kan seker wees dat Ek gesien het hoe swaar my volk in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle teen hulle slawedrywers om hulp roep. Ek is baie bewus van hoe swaar hulle kry. Daarom het Ek afgekom om hulle van die Egiptenaars te bevry en hulle weg te lei uit Egipte na hulle eie mooi, groot land. Dit is ’n land met oorgenoeg kos. Die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete bly nou daar. Die volk se noodroep het by My uitgekom en Ek het raakgesien hoe die Egiptenaars hulle verdruk en swaar laat werk. Gaan nou! Ek stuur jou na die farao toe. Jy moet my volk, die Israeliete, weglei uit Egipte uit.”