Ek het oor dit alles nagedink
en probeer verstaan
hoe dit is
dat dié wat reg doen,
en dié wat wysheid het,
en dit wat hulle doen,
onder God se beheer is.
Maar niemand weet
of daar vir hom liefde
of haat wag nie.
Dieselfde lot
wag vir alle mense,
dié wat regverdig is of goddeloos,
goed of sleg,
rein of onrein,
dié wat offer
en dié wat nie offer nie.
Goeie mense en sondaars
kry dieselfde behandeling.
Soos dit gaan met dié wat ’n eed aflê,
so gaan dit ook met dié
wat nie ’n eed aflê nie.
Die slegste ding
van alles wat onder die son gebeur,
is dat dieselfde lot almal tref.
Ook dat die hart van die mens
vol boosheid is.
Die dwaasheid bly by hom
sy lewe lank.
Daarna gaan hy
na dié wat reeds dood is.
Net mense wat leef,
het enige hoop.
Selfs ’n hond wat lewe,
is meer werd as ’n leeu
wat dood is.
Dié wat lewe, weet ten minste
dat hulle sal doodgaan.
Maar dooies weet niks.
Daar wag vir hulle
geen beloning meer nie,
en niemand onthou hulle nie.
Dit is dan klaar met hulle liefde,
hulle haat en hulle hartstog.
Hulle sal nooit weer deel hê
aan wat onder die son
gebeur nie.
Daarom, eet jou brood
met blydskap.
Drink jou wyn
met ’n hart vol vreugde.
Want God het lankal reeds
dit goedgekeur wat jy doen.
Dra wit klere,
moenie ophou om olyfolie
op jou kop te gooi nie.
Leef gelukkig saam met die vrou
wat jy liefhet,
solank die sinlose lewe aanhou
wat God
jou onder die son gegee het.
Dit kom jou toe in die lewe,
onder al jou geswoeg
onder die son.
Doen met toewyding
alles wat jou hand vind
om te doen,
want in die graf
waarheen jy op pad is,
is daar nie werk of insig,
kennis of wysheid nie.
Ek het nog iets
onder die son gesien:
Die vinnigste
wen nie die resies nie.
Die sterkstes
wen nie die geveg nie.
Ook dié met wysheid
is nie dié wat kos het nie.
Dis nie verstandiges
wat ryk word,
of dié met kennis
met wie dit goed gaan nie.
Alles word bepaal
deur tyd en gebeurtenisse.
Niemand kan voorspel
wanneer sy tyd aanbreek nie.
Dis soos visse wat gevang word
in ’n net,
soos voëls gevang word
in ’n wip,
so word die mens gevang
in tye van teëspoed
as dit onverwags op hom toesak.
Ek het ook hierdie wysheid
onder die son gesien,
en dit was vir my merkwaardig:
Daar was ’n dorpie
met min mense.
’n Groot koning het
die dorpie beleër
en groot beleëringstellasies
daarteen gebou.
Daar was ’n arm man
wat baie wys was.
Hy het die stad
met sy wysheid gered.
Maar agterna het niemand
die arm man onthou nie.
Toe het ek besef:
Wysheid is beter as krag,
maar die wysheid
van die arme
word geminag,
en niemand luister
na wat hy sê nie.
Tog word die rustige woorde
van die wyse
beter gehoor
as die harde geskreeu
van ’n koning
wat oor dwase regeer.
Wysheid is meer werd
as oorlogswapens.
Maar een persoon wat fouteer,
kan baie wat goed is, bederf.