Prediker 9:1-18

Prediker 9:1-18 AFR20

Ja, aan al hierdie dinge het ek aandag gegee, om al hierdie dinge op te helder: Die regverdiges en die wyses en hulle dade is in God se hand, of dit nou liefde is of haat. Mense weet nie wat alles vir hulle voorlê nie. Alles is dieselfde vir almal: Daar wag een lot vir die regverdige en die goddelose; vir die goeie, die reine en die •onreine; vir die een wat offer en vir hom wat nie offer nie. Dit gaan met die sondaar soos met die goeie, met die een wat 'n eed aflê, soos met hom wat bang is om 'n eed af te lê. Dit is die slegte by alles wat onder die son gebeur: dat daar een lot is vir almal; ook dat die hart van mense vol boosheid is, en dat domheid in hulle harte is gedurende hulle lewe; en daarna – na die dooies! Maar vir wie nog by al die lewendes is, is daar hoop. Ja, 'n lewendige hond is beter as 'n dooie leeu. Die lewendes weet immers dat hulle sal sterf, maar die dooies weet niks nie; daar is vir hulle geen verdere beloning nie. Ja, die herinnering aan hulle het vervaag; hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer het lankal verdwyn; en vir ewig het hulle geen deel meer aan alles wat onder die son gebeur nie. Gaan eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met 'n vrolike hart, want God het lankal jou dade goedgekeur. Laat jou klere altyd wit wees, laat jou kop nie sonder reukolie wees nie. Geniet die lewe saam met die vrou wat jy liefhet, al jou sinlose lewensdae wat Hy vir jou gegee het onder die son, al jou sinlose dae; want dit is jou beloning in die lewe by jou inspanning waarmee jy jou afsloof onder die son. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met oorgawe; want daar is geen werk of verklaring, of kennis of wysheid in die •doderyk waarheen jy op pad is nie. Weer het ek onder die son gesien: Die wedloop is nie vir die vinniges en die oorlog is nie vir die krygshelde nie; brood is ook nie vir die wyses, rykdom is ook nie vir die verstandiges, en guns is ook nie vir die kenners nie; want tyd en toeval is bepalend vir hulle almal. Ja, die mens ken ook nie sy tyd nie. Soos visse wat gevang word in 'n verraderlike net, en soos voëls wat gevang word in 'n wip, so is dit met hulle: In 'n tyd van onheil raak mense verstrik, soos dit hulle skielik oorval. Ook dit beskou ek as wysheid onder die son, en dit is vir my iets groots: Daar was 'n klein stadjie met min mense daarin. 'n Groot koning het daarheen opgetrek, dit omsingel en groot beleëringswerke daarteen gebou. 'n Arm, wyse man het hom in die stad bevind. Dié man het die stad deur sy wysheid gered, tog het niemand daardie arm man onthou nie. Toe het ek gesê: Wysheid is beter as krag; maar die wysheid van die arme word verag, en na sy woorde word nie geluister nie. Woorde van wyses, kalm aangehoor, is beter as die geskree van 'n heerser tussen dwase. Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een persoon wat verkeerd optree, maak baie wat goed is, tot niet.