PREDIKER 9:1-18
PREDIKER 9:1-18 Bybel vir almal (ABA)
Ja, ek het oor al hierdie dinge gedink en ek het gesien dat dit God is wat besluit oor mense wat reg lewe, Hy besluit oor wyse mense en oor die dinge wat hulle doen. Mense weet nie wat met hulle sal gebeur nie, hulle weet ook nie of God vir hulle liefde of haat sal stuur nie. Dieselfde dinge gebeur met almal, dit gebeur met mense wat reg doen en met mense wat verkeerd doen, met mense wat goed is, met mense wat rein is en met mense wat onrein is, met mense wat offer en met mense wat nie offer nie, met mense wat goeie dinge doen en met mense wat sonde doen, met mense wat vir God iets belowe en met mense wat bang is om vir God iets te belowe. Daar is iets verkeerd wat in hierdie wêreld gebeur: Dit is verkeerd dat dieselfde dinge met almal gebeur. Mense dink slegte dinge en hulle is dwase hulle hele lewe lank, en daarna sterf hulle. Terwyl 'n mens lewe, kan hy hoop dat dit beter sal gaan met hom, want 'n hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is. Ja, mense wat lewe, weet dat hulle sal sterf, maar mense wat dood is, weet niks. Hulle kry nie 'n beloning nie, want niemand dink nog aan hulle nie. Hulle was miskien lief vir mense of hulle het mense gehaat, of hulle was kwaad en ontsteld, maar wanneer hulle sterf, dan is dit alles verby. Hulle sal nooit weer saam met ander mense die dinge doen wat in hierdie wêreld gebeur nie. Maar jy, gaan eet jou kos, gaan drink jou wyn en geniet dit. God is tevrede met wat jy doen. Jy moet altyd wit klere dra, en jy moet lekkerruik-olie op jou kop smeer. Jy moet die lewe geniet saam met die vrou vir wie jy lief is. Jy moet elke dag van jou lewe geniet, elke dag wanneer niks is soos dit moet wees nie. Dit is God wat vir jou elke dag gee, elke dag wanneer niks is soos dit moet wees nie, want dít is wat jy kry terwyl jy lewe en hard werk in hierdie wêreld. Jy moet alles doen wat jy kan doen, jy moet dit goed doen, want jy gaan na die doderyk en daar sal jy nie werk of dink of weet of wysheid hê nie. Ek het nog iets gesien in hierdie wêreld: Jy kan miskien vinnig hardloop, maar jy wen nie die resies nie, jy is miskien 'n goeie soldaat, maar jy wen nie die oorlog nie, jy het miskien wysheid, maar jy het niks kos nie, jy is miskien verstandig, maar jy word nie ryk nie, jy weet miskien baie dinge, maar niemand hou van jou nie. Die dinge wat met jou moet gebeur, sal gebeur wanneer dit die regte tyd is. 'n Mens weet self nie wanneer dit tyd is dat hy moet sterf nie. Dit sal miskien skielik sleg gaan met hom, soos wanneer 'n vis skielik in 'n visnet kom of wanneer 'n voël in 'n vangnet vassit. Ek het ook dít gesien: Daar is wysheid in hierdie wêreld, en dit is vir my baie belangrik. Daar was 'n klein stadjie, min mense het daar gewoon. 'n Groot koning het die stad van al die kante aangeval. Hy het probeer om die stad se mure af te breek. Daar was 'n arm man in die stad, die man het wysheid gehad. Hy het sy wysheid gebruik om die stad te red. Maar niemand het daardie arm man onthou nie. Ek het toe gesê: Dit is beter om wysheid te hê as om sterk te wees. Maar mense dink 'n arm mens se wysheid is nie belangrik nie, en hulle luister nie wanneer hy praat nie. Dit is beter om te luister wanneer wyse mense kalm praat, beter as om te luister wanneer 'n persoon wat regeer, vir dwase skree. Wysheid is beter as oorlog-wapens, maar een sondaar verwoes baie goeie dinge.
PREDIKER 9:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WANT dit alles het ek ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond, dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is, liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie. Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir 'n eed. Dit is 'n verkeerde ding by alles wat plaasvind onder die son, dat een en dieselfde lot almal tref, en ook die hart van die mensekinders vol boosheid is, en dat dwaasheid in hulle hart is gedurende hulle lewe; en daarna gaan dit na die dooies toe! Want solank as iemand by al die lewendes behoort, is daar hoop; want 'n lewendige hond is beter as 'n dooie leeu. Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet. Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie. Gaan dan heen, eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met 'n vrolike hart, want God het lankal behae in jou werke. Laat jou klere altyd wit wees, en laat olie op jou hoof nie ontbreek nie. Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, al die dae van jou nietige lewe wat Hy jou gegee het onder die son — al jou nietige dae; want dit is jou deel aan die lewe en aan jou arbeid wat jy met moeite verrig onder die son. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie. WEER het ek onder die son gesien dat die wedloop nie is vir die vinniges en die oorlog nie vir die helde nie; en ook die brood is nie vir die wyse of ook rykdom vir die slimmes of ook guns vir die verstandiges nie; want tyd en lotgeval tref hulle almal. Ja, die mens ken ook sy eie tyd nie, soos die visse wat gevang word in die gevaarlike net, en soos die voëls wat gevang word in die vangnet — soos hulle word die mensekinders verstrik in die tyd van onheil as dit hulle skielik oorval. Ook het ek dit as wysheid gesien onder die son, en dit was groot in my oog: daar was 'n klein stadjie en min manne daarin, en 'n groot koning het daarteen gekom en dit omsingel en groot beleëringswerke daarteen gebou. En daarin is 'n arm wyse man gevind; dié het die stad deur sy wysheid gered, maar geen mens het aan daardie arm man gedink nie. Toe het ek gesê: Wysheid is beter as heldekrag; maar die wysheid van die arme word verag, en na sy woorde word nie geluister nie. Woorde van wyse manne, wat rustig aangehoor word, is beter as die geskreeu van 'n heerser onder die dwase. Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een sondaar bederf baie goeie dinge.
PREDIKER 9:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit alles het ek ter harte geneem en ek het bevind: God regeer oor dié wat reg doen en wysheid het, en oor wat hulle doen. Niemand weet of daar vir hom liefde of haat wag nie. Een en dieselfde lot tref almal: die regverdige en die goddelose, die goeie, die reine en die onreine, die een wat offer en die een wat nie offer nie. Soos dit met die goeie gaan, so gaan dit met die sondaar, soos dit gaan met die een wat 'n eed aflê, so gaan dit met hom wat weier om 'n eed af te lê. Die ellende met alles wat in hierdie wêreld gebeur, is dat dieselfde lot almal tref. Die hart van die mens is vol boosheid; die dwaasheid bly hom sy lewe lank by, en sy einde is die dood. Solank jy onder die lewendes is, het jy hoop. 'n Hond wat lewe, is beter as 'n leeu wat dood is. Dié wat lewe, weet hulle sal doodgaan, maar die dooies weet niks; daar wag vir hulle niks meer nie, hulle is vergeet; dit is klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog. Hulle sal nooit weer deel hê aan wat in hierdie wêreld gebeur nie. Eet dus jou brood met vreugde, drink jou wyn met 'n bly gemoed; God het lankal reeds goedgekeur wat jy doen. Dra altyd wit klere, versorg jou hare met olie. Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die hele lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld. Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie. Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie, nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en geleentheid. Die mens ken selfs nie die tyd van sy dood nie. Soos visse wat gevang word in 'n net, soos voëls wat gevang word in 'n wip, so word die mens gevang as die teëspoed kom, as dit hom skielik oorval. Ook hierdie stukkie wysheid het ek in hierdie wêreld gesien, en vir my was dit belangrik: Daar was 'n klein stadjie met min mense. 'n Magtige koning het teen die stad opgetrek, dit beleër en hom daar ingegrawe. In die stad was 'n arm man met baie wysheid, en hy het die stad deur sy wysheid gered. Maar niemand het die arm man onthou nie. Toe het ek gesê: Wysheid is wel beter as krag, maar die wysheid van die arme word geminag, en niemand luister na wat hy sê nie. Die rustige woorde van dié wat wysheid het, word beter gehoor as die geskree van een wat heers oor dwase. Wysheid is beter as wapens, maar een misstap kan baie wat goed is, bederf.
PREDIKER 9:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ja, aan al hierdie dinge het ek aandag gegee, om al hierdie dinge op te helder: Die regverdiges en die wyses en hulle dade is in God se hand, of dit nou liefde is of haat. Mense weet nie wat alles vir hulle voorlê nie. Alles is dieselfde vir almal: Daar wag een lot vir die regverdige en die goddelose; vir die goeie, die reine en die •onreine; vir die een wat offer en vir hom wat nie offer nie. Dit gaan met die sondaar soos met die goeie, met die een wat 'n eed aflê, soos met hom wat bang is om 'n eed af te lê. Dit is die slegte by alles wat onder die son gebeur: dat daar een lot is vir almal; ook dat die hart van mense vol boosheid is, en dat domheid in hulle harte is gedurende hulle lewe; en daarna – na die dooies! Maar vir wie nog by al die lewendes is, is daar hoop. Ja, 'n lewendige hond is beter as 'n dooie leeu. Die lewendes weet immers dat hulle sal sterf, maar die dooies weet niks nie; daar is vir hulle geen verdere beloning nie. Ja, die herinnering aan hulle het vervaag; hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer het lankal verdwyn; en vir ewig het hulle geen deel meer aan alles wat onder die son gebeur nie. Gaan eet jou brood met vreugde, en drink jou wyn met 'n vrolike hart, want God het lankal jou dade goedgekeur. Laat jou klere altyd wit wees, laat jou kop nie sonder reukolie wees nie. Geniet die lewe saam met die vrou wat jy liefhet, al jou sinlose lewensdae wat Hy vir jou gegee het onder die son, al jou sinlose dae; want dit is jou beloning in die lewe by jou inspanning waarmee jy jou afsloof onder die son. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met oorgawe; want daar is geen werk of verklaring, of kennis of wysheid in die •doderyk waarheen jy op pad is nie. Weer het ek onder die son gesien: Die wedloop is nie vir die vinniges en die oorlog is nie vir die krygshelde nie; brood is ook nie vir die wyses, rykdom is ook nie vir die verstandiges, en guns is ook nie vir die kenners nie; want tyd en toeval is bepalend vir hulle almal. Ja, die mens ken ook nie sy tyd nie. Soos visse wat gevang word in 'n verraderlike net, en soos voëls wat gevang word in 'n wip, so is dit met hulle: In 'n tyd van onheil raak mense verstrik, soos dit hulle skielik oorval. Ook dit beskou ek as wysheid onder die son, en dit is vir my iets groots: Daar was 'n klein stadjie met min mense daarin. 'n Groot koning het daarheen opgetrek, dit omsingel en groot beleëringswerke daarteen gebou. 'n Arm, wyse man het hom in die stad bevind. Dié man het die stad deur sy wysheid gered, tog het niemand daardie arm man onthou nie. Toe het ek gesê: Wysheid is beter as krag; maar die wysheid van die arme word verag, en na sy woorde word nie geluister nie. Woorde van wyses, kalm aangehoor, is beter as die geskree van 'n heerser tussen dwase. Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een persoon wat verkeerd optree, maak baie wat goed is, tot niet.
PREDIKER 9:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Oor dit alles het ek in my hart gedink om dit alles te verkondig, dat die regverdiges en die wyses en hulle werke in die hand van God is; niemand ken liefde of haat van alles wat voor hulle is nie. Alles kom vir almal eenders: een gebeurtenis is vir die regverdige en een vir die goddelose; vir die goeies en die reines en die onreine; aan hom wat offer en aan hom wat nie offer nie: soos die goeie is, so is die sondaar; en hy wat sweer, soos hy wat 'n eed vrees. Dit is 'n boosheid onder alles wat onder die son gebeur, dat daar een gebeurtenis vir almal is: ja, ook die hart van die mensekinders is vol boosheid, en waansin is in hulle hart terwyl hulle lewe, en daarna hulle gaan na die dooies. Want vir hom wat aan al die lewendes verbonde is, is daar hoop, want 'n lewende hond is beter as 'n dooie leeu. Want die lewendes weet dat hulle sal sterwe, maar die dooies weet niks en het geen beloning meer nie; want die herinnering aan hulle is vergete. Ook hulle liefde en hulle haat en hulle afguns is nou vergaan; en hulle het geen deel meer vir ewig aan alles wat onder die son geskied nie. Gaan heen, eet jou brood met blydskap en drink jou wyn met 'n vrolike hart; want God neem nou jou werke aan. Laat u klere altyd wit wees; en laat jou hoof geen salf ontbreek nie. Leef met vreugde saam met die vrou wat jy liefhet al die dae van die lewe van jou nietigheid wat hy jou gegee het onder die son, al die dae van jou nietigheid; want dit is jou deel in hierdie lewe en in jou arbeid wat jy doen onder die son. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou krag; want daar is geen werk of plan of kennis of wysheid in die doderyk waarheen jy gaan nie. Ek het teruggekeer en onder die son gesien dat die wedloop nie vir die vinniges is nie, en ook nie die stryd vir die sterkes nie, ook nie brood vir die wyses nie, en nog geen rykdom vir manne van verstand nie, nog geen guns vir manne van vaardighede nie; maar tyd en toeval kom met hulle almal oor. Want ook die mens ken nie sy tyd nie: soos visse wat in 'n bose net gevang word en soos die voëls wat in die strik gevang word; so word die mensekinders verstrik in 'n onheilspellende tyd as dit hulle skielik oorval. Hierdie wysheid het ek ook onder die son gesien, en dit het vir my groot gelyk: Daar was 'n klein stad, en min manne daarin; en 'n groot koning het daarteen gekom en dit beleër en groot skans daarteen gebou. En daar is 'n arm wyse man daarin gevind, en hy het die stad deur sy wysheid gered; tog het niemand daardie selfde arme man onthou nie. Toe sê ek: Wysheid is beter as krag; nogtans word die wysheid van die arm man verag, en sy woorde word nie gehoor nie. Die woorde van wyse manne word in stilte gehoor, meer as die geroep van hom wat onder dwase heers. Wysheid is beter as oorlogswapens, maar een sondaar vernietig baie goed.
PREDIKER 9:1-18 Die Boodskap (DB)
Ek het die lewe ondersoek en besef dat alles voorafbepaal is. God beheer wyse mense en hulle dade, asook hulle gevoelens van liefde en haat. Niemand weet wat môre of oormôre gaan gebeur nie. Dieselfde lot tref almal. Dit maak die lewe sinloos. Of iemand nou goed of sleg is, en of iemand offer of nie offer nie, maak nie eintlik saak nie. ’n Goeie mens is nie in ’n beter posisie as ’n slegte mens nie en iemand wat beloftes voor God aflê, is nie beter as iemand wat dit nie doen nie. Daar is ’n slegte ding in hierdie wêreld en dit is dat almal dieselfde lot deel. Mense gee hulle aan sinlose dinge oor en bedink allerlei booshede. Daarna gaan hulle dood. Almal wat leef, het egter ’n skrale troos; amper soos die waardelose voordeel van ’n brandsiekhond wat nog leef teenoor ’n sterk leeu wat klaar dood is. En dit is dat die lewende weet hy gaan sterf, terwyl die dooie dit nie weet nie. Die dooie kan niks meer geniet nie. Hy word heeltemal vergeet. Selfs sy liefde, haat en jaloesie gaan saam met hom dood. Hy het geen deel meer aan enigiets wat op aarde gebeur nie. In sulke omstandighede moet jy jou kos met vreugde geniet en jou wyn met blydskap drink. God het dit lank gelede al so bepaal. Dra die regte klere om te wys hoe gelukkig en bly jy is. Laat jou klere wys dat jy die lewe tot ’n fees verklaar het. Geniet die lewe met die vrou vir wie jy lief is. Geniet haar elke dag in die sinlose lewe wat jou gegun is. Sy sal jou troos wees in hierdie sinlose wêreld waarin jy jou dag en nag moet afsloof. Werk hard en probeer dit geniet. Doen wat jou hand vind om te doen, want in die blyplek van die dooies waarheen jy op pad is, werk niemand nie. Daar is ook geen kennis of wysheid nie. Daar is nog iets wat my baie omkrap. En dit is dat die vinnigstes nie altyd die resies wen of die sterkstes die geveg nie. Verder het daardie mens wat reg leef, nie altyd kos nie; ’n skrander mens is ook nie altyd ryk nie en slimmes word nie altyd bevorder nie. Slegte dinge tref almal. Niemand weet wanneer iets slegs met hom gaan gebeur nie. Soos wanneer voëls skielik in ’n wip beland, of visse in ’n net, net so vinnig en onverwags tref ongeluk die mens. Ek het in hierdie wêreld gesien dat mense nie veel van wysheid dink nie. Op ’n keer was daar ’n klein dorpie met ’n paar inwoners. ’n Groot sterk koning het teen die dorpie opgetrek. Hy het dit omsingel en die mure begin afbreek. Binne-in die dorpie was daar ’n arm man, maar baie wys. Deur sy kennis en insig het hulle die koning se aanslag afgeweer. Maar na ’n tydjie het niemand meer aan dié wyse man gedink nie. Toe het ek vir myself gesê dit is tipies van die lewe. Wysheid is baie beter as krag en mag, maar die arm wyse sal altyd verag word. Niemand luister na hom nie. Om rustig na die diep gedagtes van ’n wyse te luister is baie beter as die geskree van ’n politieke leier in die geselskap van dwase mense. Wysheid is beter as oorlogswapens. ’n Dwaas kan egter alle goeie dinge met een woord vernietig.
PREDIKER 9:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek het oor dit alles nagedink en probeer verstaan hoe dit is dat dié wat reg doen, en dié wat wysheid het, en dit wat hulle doen, onder God se beheer is. Maar niemand weet of daar vir hom liefde of haat wag nie. Dieselfde lot wag vir alle mense, dié wat regverdig is of goddeloos, goed of sleg, rein of onrein, dié wat offer en dié wat nie offer nie. Goeie mense en sondaars kry dieselfde behandeling. Soos dit gaan met dié wat ’n eed aflê, so gaan dit ook met dié wat nie ’n eed aflê nie. Die slegste ding van alles wat onder die son gebeur, is dat dieselfde lot almal tref. Ook dat die hart van die mens vol boosheid is. Die dwaasheid bly by hom sy lewe lank. Daarna gaan hy na dié wat reeds dood is. Net mense wat leef, het enige hoop. Selfs ’n hond wat lewe, is meer werd as ’n leeu wat dood is. Dié wat lewe, weet ten minste dat hulle sal doodgaan. Maar dooies weet niks. Daar wag vir hulle geen beloning meer nie, en niemand onthou hulle nie. Dit is dan klaar met hulle liefde, hulle haat en hulle hartstog. Hulle sal nooit weer deel hê aan wat onder die son gebeur nie. Daarom, eet jou brood met blydskap. Drink jou wyn met ’n hart vol vreugde. Want God het lankal reeds dit goedgekeur wat jy doen. Dra wit klere, moenie ophou om olyfolie op jou kop te gooi nie. Leef gelukkig saam met die vrou wat jy liefhet, solank die sinlose lewe aanhou wat God jou onder die son gegee het. Dit kom jou toe in die lewe, onder al jou geswoeg onder die son. Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die graf waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig, kennis of wysheid nie. Ek het nog iets onder die son gesien: Die vinnigste wen nie die resies nie. Die sterkstes wen nie die geveg nie. Ook dié met wysheid is nie dié wat kos het nie. Dis nie verstandiges wat ryk word, of dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word bepaal deur tyd en gebeurtenisse. Niemand kan voorspel wanneer sy tyd aanbreek nie. Dis soos visse wat gevang word in ’n net, soos voëls gevang word in ’n wip, so word die mens gevang in tye van teëspoed as dit onverwags op hom toesak. Ek het ook hierdie wysheid onder die son gesien, en dit was vir my merkwaardig: Daar was ’n dorpie met min mense. ’n Groot koning het die dorpie beleër en groot beleëringstellasies daarteen gebou. Daar was ’n arm man wat baie wys was. Hy het die stad met sy wysheid gered. Maar agterna het niemand die arm man onthou nie. Toe het ek besef: Wysheid is beter as krag, maar die wysheid van die arme word geminag, en niemand luister na wat hy sê nie. Tog word die rustige woorde van die wyse beter gehoor as die harde geskreeu van ’n koning wat oor dwase regeer. Wysheid is meer werd as oorlogswapens. Maar een persoon wat fouteer, kan baie wat goed is, bederf.