Toe dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Jode se sinagoge gegaan. Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika, en hulle het met groot belangstelling na Paulus se boodskap geluister. Hulle het elke dag die Skrifte ondersoek om te sien of dit is soos Paulus en Silas sê. Baie van hulle het gevolglik gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, sowel vooraanstaande vroue as mans.
Toe die Jode van Tessalonika egter hoor dat die woord van God ook in Berea deur Paulus verkondig word, het hulle ook dáár oproer gaan stook en die skares opgesweep. Die gelowiges het Paulus dadelik weggestuur kus toe, maar Silas en Timoteus het agtergebly. Paulus se begeleiers het hom tot in Atene vergesel. Toe het hulle teruggegaan met ’n opdrag aan Silas en Timoteus om so gou moontlik by Paulus aan te sluit.
Terwyl Paulus in Atene vir hulle wag, het hy diep verontwaardig geword toe hy agterkom die stad is so vol afgodsbeelde. Hy het in die sinagoge geredeneer met die Jode en dié wat die ware God aanbid het, en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat.
’n Paar filosowe, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gedebatteer. Toe Paulus oor Jesus en sy opstanding praat, het party gesê: “Wat sou hierdie kletskous tog wil sê?” Ander het gesê: “Hy klink na vreemde gode se boodskapper.”
Hulle het hom na die Areopagusraad toe gevat en gesê: “Ons wil graag meer weet oor hierdie nuwe leer wat deur jou verkondig word. Dis regtig vreemde dinge wat ons hoor; ons wil graag weet wat dit beteken.” (Al die Ateners en die uitlanders in Atene het feitlik al hulle tyd aan die bespreking van nuwe idees bestee.)
Paulus het toe in die middel van die Areopagusraad stelling ingeneem en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte nogal regtig godsdienstig is. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die voorwerpe wat julle aanbid, het ek ook ’n altaar gesien met die inskripsie: ‘Aan ’n onbekende god.’ Nou ja, hierdie God wat julle aanbid sonder om Hom te ken, Hóm verkondig ek aan julle.
“Hy is die God wat die wêreld met alles daarin gemaak het. Hy is die Here van hemel en aarde, en daarom woon Hy nie in tempels wat met mensehande gebou is nie. Mensehande kan nie na sy behoeftes omsien nie, want Hy het aan niks behoefte nie. Inteendeel, dit is Hý wat aan almal lewe en asem en álles gee. Uit een mens het Hy elke nasie van die mensdom gemaak, om oor die hele aarde te woon. Hy het die tye van hulle bestaan bepaal, en die grense van hulle blyplek.
“God se doel met die nasies was om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Nie dat Hy ver van enigeen van ons af is nie. Dis tog juis deur Hóm dat ons leef, beweeg en bestaan. Soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons is sy nageslag.’ Ons moet dus nie aan God dink in terme van beelde van goud, silwer of klip nie. Ons is dan self sy nageslag. Sulke beelde is bloot skeppings van mense se vaardigheid en verbeelding. God het wel mense se vroeëre onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om die afgode te los en hulle tot Hom te bekeer. Hy het immers ’n dag bepaal waarop ’n Man wat Hy beskik het, in geregtigheid oor die wêreld gaan oordeel. As bewys vir almal wie dié Man is, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.”
Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het party hom uitgelag, maar ander het gesê: “Ons wil graag later meer hieroor van jou hoor.” Daarmee het Paulus uit hulle midde vertrek.’n Paar persone het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, ’n lid van die Areopagusraad, en Damaris, ’n vrou, en nog ’n paar saam met hulle.