Sodra dit donker was, het die gelowiges vir Paulus en Silas na Berea toe gestuur. Daar aangekom, het hulle na die Joodse sinagoge toe gegaan.
Die mense daar was ontvankliker as dié in Tessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê. Baie van die Jode het gelowig geword en ook heelparty van die Grieke, mans sowel as vooraanstaande vroue.
Toe die Jode in Tessalonika egter hoor dat Paulus die woord van God ook in Berea verkondig, het hulle ook dáár oproer gaan stook en die mense opgesweep. Die gelowiges het dadelik vir Paulus na die kus toe laat wegbring, maar Silas en Timoteus het daar agtergebly. Die mense wat vir Paulus begelei het, het hom tot by Atene gebring en toe teruggegaan met die opdrag van Paulus aan Silas en Timoteus om so gou as moontlik na hom toe te kom.
Terwyl Paulus in Atene vir Silas en Timoteus wag, het hy baie verontwaardig geword toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. Hy het in die sinagoge met die Jode en die godvresendes geredeneer en elke dag op die stadsplein met die verbygangers gepraat. 'n Paar wysgere, Epikureërs en Stoïsyne, het met hom gestry. Party het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” Ander het gesê: “Dit lyk of hy 'n boodskapper van vreemde gode is.” Dit was omdat Paulus die evangelie van Jesus en sy opstanding verkondig het.
Hulle het hom na die Areopagus toe geneem en gesê: “Kan ons te wete kom wat hierdie nuwe leer is wat jy verkondig? Party van die dinge wat jy sê, klink vir ons vreemd, en ons wil graag weet wat dit beteken.”
Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuuts te sê of te hoor nie. Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook 'n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘Aan 'n onbekende god.’
“Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het: ‘Ons stam ook van Hom af.’ Aangesien ons dan self van God afstam, moet ons nie dink dat die Godheid aan beelde van goud, silwer of klip gelyk is nie. Dit is bloot skeppinge van menslike vaardigheid en verbeelding.
“God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer, want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur 'n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan.”
Toe hulle van die opstanding uit die dood hoor, het party hom uitgelag, maar party het gesê: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.”
So het Paulus van hulle af weggegaan. 'n Paar mense het egter gelowig geword en by hom aangesluit. Onder hulle was daar Dionisius, 'n lid van die Areopagus, en 'n vrou met die naam Damaris en nog ander saam met hulle.