Die broers het Paulus en Silas, toe dit nag word, dadelik na Berea gestuur. Met hulle aankoms het hulle na die Joodse sinagoge gegaan. Die mense daar was meer welwillend as dié in Thessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is. As gevolg daarvan het baie van hulle, en ook nie 'n geringe aantal van die vooraanstaande Griekse vroue en mans nie, gelowig geword. Toe die Jode van Thessalonika egter verneem dat die woord van God ook in Berea deur Paulus verkondig is, het hulle ook daar die skares gaan opsweep en in oproer gebring. Die broers het Paulus toe dadelik weggestuur om na die kus te gaan, maar Silas en Timoteus het daar agtergebly. Die mense wat Paulus begelei het, het hom tot by Athene geneem en vertrek, met 'n opdrag aan Silas en Timoteus om so spoedig moontlik weer na Paulus terug te keer.
Terwyl Paulus in Athene op hulle gewag het, was hy in sy gees diep verontwaardig toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is. Hy het in die sinagoge met die Jode en die mense wat God vereer, geredeneer, en ook elke dag op die markplein met wie ook al daar was. Sommige van die Epikuriese en Stoïsynse filosowe het ook met hom gedebatteer, en party van hulle het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” En omdat hy Jesus en die opstanding verkondig het, het ander van hulle weer opgemerk: “Dit lyk of hy 'n verkondiger van vreemde gode is.” Hulle het hom geneem en na die Areopagus gebring en gesê: “Mag ons weet wat die nuwe leer is wat deur jou verkondig word? Want dit wat jy sê, val vreemd op ons ore, en ons wil graag weet wat dit beteken.”
Al die Atheners en ook die uitlanders wat daar woon, het vir niks anders tyd as om oor iets nuuts te praat of daarna te luister nie.
Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Atheners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Want toe ek deur die stad gestap het en noukeurig gekyk het na julle voorwerpe van aanbidding, het ek ook 'n altaar gevind waarop geskryf staan, ‘Aan 'n onbekende god.’ Wat julle dan onwetend aanbid, verkondig ek aan julle. Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Hy word ook nie deur menslike hande bedien, asof Hy aan iets behoefte het nie – dit is Hy wat aan almal lewe en asem, ja alles, gee. Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal, sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom sou uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie. Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het,
“ ‘Ons is ook van sy geslag.’
“Aangesien ons dan van God se geslag is, moet ons nie dink dat die goddelike wese soos goud of silwer of klip is nie – 'n beeld gevorm deur die vaardigheid en ingewing van 'n mens. God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om hulle te bekeer. Want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur 'n Man wat Hy daarvoor aangewys het. En Hy het dit aan almal bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan.”
Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het sommige hom uitgelag, terwyl ander gesê het: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” So het Paulus uit hulle midde vertrek. 'n Paar manne het egter gelowig geword en by hom aangesluit, onder wie Dionisius, 'n lid van die Areopagus, en 'n vrou met die naam Damaris, en nog ander saam met hulle.