HANDELINGE 11:4-10

HANDELINGE 11:4-10 NLV

Petrus het toe begin om vir hulle alles mooi uiteen te sit: “Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geestesvervoering ’n gesig gesien het,” het hy gesê. “Iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, het uit die hemel afgekom. En dit het tot by my gekom. Toe ek in die doek kyk, sien ek daarin allerhande aardse diere, wilde diere en reptiele, en ook voëls. Toe hoor ek ’n stem wat vir my sê: ‘Staan op, Petrus! Slag en eet!’ “‘Nooit nie, Here!’ het ek geantwoord. ‘Iets wat onrein is, het nog nooit my mond binnegegaan nie.’ “’n Tweede keer het ’n stem uit die hemel gereageer: ‘Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie.’ “Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek.