2 KONINGS 4:38-41

2 KONINGS 4:38-41 NLV

Elisa het teruggegaan na Gilgal toe. Daar was egter hongersnood in die land. Eendag, terwyl ’n groep jong profete voor hom sit, sê hy vir sy dienaar: “Sit ’n groot pot op die vuur en maak ’n bredie vir die jong profete.” Een van die jong mans gaan toe om kruie in die veld te soek. Hy kom af op ’n rank met wilde komkommers en pluk daarvan ’n sak vol. Toe hy terugkom, sny hy dit stukkend in die pot sonder dat hy geweet het wat dit was. Hulle het die bredie opgeskep, maar nadat hulle ’n hap of twee geëet het, roep hulle: “Man van God, daar is gif in die bredie!” Hulle kon nie verder eet nie. Elisa sê toe vir hulle: “Bring vir my ’n bietjie meel.” Hy neem dit, gooi dit in die pot en sê: “Nou is dit weer eetbaar. Gaan gerus aan met die ete.” Toe hulle dit eet, was dit nie meer sleg nie.