Stiltyd GedigteSample
Psalm 18:3-4 (NLV): “Die HERE is my rots, my vesting en my redder, my God, en my rots by wie ek skuil. Hy is my skild, my magtige redder, my veilige vesting. Ek het tot die HERE geroep, Hy wat lofwaardig is, want Hy red my van my vyande.”
SALUUT VIR 'n VROU
Jy blyk graniet van buite, jou raamwerk yster,
maar jou hart is watte, rou en verbysterd
Jou wese gewoond dat jy nooit gaan lê
Jou kinders het jóú nodig, hulle moet vir jou hê
Jou menswees is eerlik, jou hart vol van gee
jou oë spreek van liefde, kalm soos die see
Jou gemoed van deursetting maak ‘n hart week
Daar is soveel meer wat diep binne jou steek
Ek luister en hoor ‘n vrou seer maar braaf
Ek voel die Here se hand haar saggies laaf
My binneste staan op, wil uitroep teen haar pyn,
maar Hy maak my stil, dit is sy samesyn
Die lewe soms kru, selfs net te veel
Wie is dit ... die Satan wat dit reël?
Ek val op my knieë, gee die pakkie vir Hom
en my siel erken weer — “God, ek staan stom”
Hy lawe my hart wat swaarkry vir ‘n vrou
wat lafenis soek in niks, net als wat sou
Hy wys my op meer, ‘n plan heeltemal nuut
Ek begryp sy wye hand en ek saluut!
Jy is kosbaar en sag, van werkbare staal
die eindproduk wat sy grootheid sal bepaal
Ek ervaar die oorwinning, vanuit ‘n ver hoër plek
en ek staan weer met my hand uitgestrek
Ek saluut jou volstoom-hart dapper vrou
Vir wat jy verduur maar ook wat jy behou
God sien raak, ook engele saluut jou
Jy is veilig, staan vas — jou tyd is nou!
Gebed: Here, ek weet ek kan in oorwinning leef met U langs my ... my Rots en veilige hawe.
Alhoewel hierdie gedig vir ‘n vrou geskryf is, is dit beslis van toepassing vir mans ook. Meestal kan baie mense vereenselwig met hierdie woorde. Deur fyn te luister kan jy ook ander se seer voel en hul opdra in jou gebede.
Scripture
About this Plan
Koning Dawid is sekerlik die beste voorbeeld wanneer gedigte ter sprake kom. Hy het gereeld God se lof besing, sy grootheid erken. Tydens krisistye het hy by God gepleit. Selfs koning Salomo het hierdie gawe by Dawid geërf; wandel gerus deur Hooglied. In jou stiltyd kan gedagtes ‘n gedig voor God se voete word, in goeie en slegte tye. In hierdie leesplan val woorde in lyn om te rym.
More