YouVersion Logo
Search Icon

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™Sample

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™

DAY 8 OF 21

“Vas en gebed”

Matteus 17 vertel van ’n insident toe die dissipels nie ’n demoon kon uitdryf nie. Hulle het Jesus gevra waarom hulle dit nie kon regkry nie, en Hy het gesê dit was omdat hul geloof nie sterk genoeg was nie. Wanneer ons vas, bring dit ons in die dimensie van die geesteswêreld in.

Vir my is dit ontsettend moeilik om te vas. Ek geniet altyd my maaltye verskriklik baie. Nadat ek Jesus ontmoet het, het ek egter gereeld begin vas en my lewe het regtig verander. John Wesley het twee keer per week gevas omdat hy nader aan Jesus wou wees.

Ek is van nature iemand wat graag gesels. Wanneer ek ’n paar dae lank alleen berge toe gaan om tyd saam met Jesus deur te bring, is die eerste ding wat ek opmerk die feit dat ek fisies swak word. Daarom praat ek minder en luister ek meer. Ek bid minder en bestee meer tyd daaraan om te mediteer en uit die Woord te lees. Die teenwoordigheid van Jesus word ’n werklikheid.

As jy weens mediese redes nie kán vas nie, kan jy nogtans vas deur sekere luukshede prys te gee en tyd in gebed deur te bring.

Vas is ’n moeilike oefening, maar ons móét mense wees wat vas en bid. Dis ’n integrale deel van ’n Christen se leefstyl. As Jesus dit as noodsaaklik beskou het om te vas, kan jy maar glo dat ons dit ook as noodsaaklik beskou. Vas het ’n totale reiniging van ’n mens se lewe en bediening tot gevolg. Dit verwyder al die spinnerakke en geraamtes. Jou lewe word belig en jy sal kan sien hoe naby jy aan Jesus wandel. Vas gee jou die geleentheid om terug te keer na God en stel jou in staat om dinge kristalhelder te kan sien.

As daar ’n kwessie in jou lewe is waarmee jy worstel, wil ek jou sterk aanraai om gereeld te vas. As jy die besluit maak om te vas en bid, sal dit ’n ommekeer in jou lewe teweegbring. Die Here sal jou onderwerping en selfonthouding raaksien en jy sal die antwoorde, leiding en raad ontvang wat jy nodig het.

GEBED: Liewe Here Jesus, ek wil gereeld begin vas. Help my asseblief om dit te doen, om my aan U te onderwerp en tyd in u teenwoordigheid deur te bring. Ek het u leiding en lig in my lewe nodig. Amen.

Geneem uit DIE BYBEL – MET GRASSROOTS-OORDENKINGS DEUR ANGUS BUCHAN © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Day 7Day 9

About this Plan

21 dae oor die krag van gebed deur Angus Buchan™

Hierdie 21 dae-plan is ’n samestelling van dagstukkies oor gebed. Dit is ’n wonderlike hulpmiddel om ’n dieper verhouding met God te ontwikkel. Elke dag bevat ’n Skrifverwysing, ’n oordenking oor gebed en ’n slotgebed. Hierdie oordenkings is geneem uit DIE BYBEL – MET GRASSROOTS-OORDENKINGS en IN DIE VREDE VAN SY TEENWOORDIGHEID deur Angus Buchan.

More