Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met WonderwerkeSample
Was jy al ooit so desperaat vir iets dat jy nie omgee wat ander mense dink nie? Ek verbaas myself altyd as ek kompetisies sien waar hulle die vrywilligers vra om iets vir ‘n prys te doen. Dit maak nie saak wie kyk nie, hulle sal enigiets doen vir daardie beloning.
Daar was ‘n vrou wat so desperaat vir genesing was dat sy alles gewaag het om daardie genesing te ontvang. Sy het gewaag om deur die mense verwerp en dalk uit die stad uitgegooi te word.
Jesus het sopas die besetene van Gadara genees en die skare het om Hom saamgedrom. Hy was op pad na Jaïrus se huis waar sy 12-jarige dogter op sterwe gelê het. In hierdie warboel van mense, is daar ‘n vrou wat al vir 12 jaar aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles probeer, al haar geld op dokters en medisyne uitgegee en sy het geweet Jesus is haar enigste oplossing.
Wanneer laas was ek of jy so desperaat vir Jesus, so desperaat dat ons net aan sy kleed wil raak, want ons weet dit sal genoeg wees? Sy was bereid om net aan die soom van sy kleed te raak en het geglo dit sou genoeg vir haar genesing wees.
Jesus het egter ‘n ander plan gehad. Hy verskuif die aandag op haar, nie om haar te verneder nie, maar sy moes die woorde hoor: “Dogter jou geloof het jou gered …”, sy moes hoor sy is nie net ‘n vreemdeling nie, maar sy is ‘n dogter van die Koning, die wêreld het haar dalk weens haar siekte verwerp, maar Jesus roep haar as dogter van die Koning. Jesus genees nie net haar siekte nie, maar herstel haar in haar posisie voor God, Jesus herstel haar waardigheid.
Ons laat toe dat ons omstandighede ons waardigheid steel, ons loop rond, te skaam om mense in die oë te kyk, want wat gaan hulle sê? Psalm 3 leer ons dat God die een is wat ons aan alle kante beskerm. Wanneer die vyand ons minderwaardig laat voel, is dit God wat ons waardigheid herstel.
Daar was nog ‘n rede waarom Jesus die aandag op die vrou gevestig het, Jesus het geweet dat die Fariseërs hom dophou om te sien of Hy ‘n fout maak. Om te verhoed dat hulle hom gevange neem voor die regte tyd, moes Hy dit bekend gemaak het dat die "onrein" vrou aan Hom gevat het en dit het Hom "onrein" gemaak. Dit het dit moontlik gemaak dat Hy by Jaïrus se huis kon ingaan.
Jaïrus was net so desperaat vir sy dogter se lewe, en het Jesus probeer oortuig om na sy huis toe te gaan. Daar kom toe iemand van sy huis hom tegemoet en sê dit is te laat, want sy dogter is dood. Voor die tyding kon insink, tree Jesus in en bemoedig hom om aan te hou glo.
Hulle kom by sy huis aan en word begroet met trane, met rou, met negatiwiteit. Jesus gee opdrag dat almal die huis moet verlaat en Hy vat slegs vir Jaïrus, Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom in. Ten spyte van die mense wat Hom uitgelag het gaan Jesus in die huis binne.
Jesus vat haar aan die hand en spreek die woorde “Talita, koem” dit word vertaal as "Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!" Daar keer haar gees terug na haar liggaam en sy staan op.
Daar sal altyd genoeg mense wees wat dood in ‘n situasie sien, altyd genoeg water wees om jou vuur van geloof te blus. Ons verantwoordelikheid is om die negatiwiteit te beveg en onsself te omring met mense wat lewe spreek.
Ons begin praat soos die mense met wie ons onsself omring. As daar voortdurend dood gespreek word, gaan ons lig binne ons begin dowwer brand, maar die oomblik as daar voortdurend lewe gespreek word, sal my vlam sterker en sterker begin brand.
Gebedsriglyn
Here, dankie dat U ons waardig ag om kinders van God genoem te word. Help ons om desperaat te wees om net aan u kleed te raak, deur almal te druk net om in u teenwoordigheid te kom. Jesus dankie dat U my waardigheid aan die kruis herstel het. Dankie dat almal in wie U is, met waardigheid kan wandel. Heilige Gees help my om negatiwiteit in my lewe te beveg, om nie meer dood te spreek nie, maar lewe in my omstandighede te spreek.
Scripture
About this Plan
Afwagtend - 'n Lewe Gevul Met Wonderwerke. In ons lewens is daar volop geleenthede vir wonderwerke om te gebeur. Die uitdaging is gewoonlik om onsself in pas te kry met God se plan vir ons lewens sodat ons hierdie wonderwerke kan beleef.
More