YouVersion Logo
Search Icon

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met WonderwerkeSample

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met Wonderwerke

DAY 5 OF 9

Ek is bevoorreg om deur ‘n ystervrou grootgemaak te word. Een ding wat vir my uitstaan en wat ek by haar geleer het, is die vermoë om altyd genoeg kos vir ‘n weermag te maak, want jy weet nooit of iemand dalk tydens aandete daar aankom nie. Sy het ook die vermoë gehad om met ‘n klein hoeveelheid bestanddele ‘n ete voor te berei waarby baie mense kon aansit.

Jesus se dissipels het hulself in so unieke situasie bevind in Johannes 6. Waar Jesus was, was daar altyd mense. Tydens hierdie geleentheid was daar baie mense wat van sy wonders gehoor en self dalk genesing nodig gehad het.

Jesus vra toe vir Filippus: “Waar kan ons brood gaan koop sodat die mense kan eet?” maar Hy vra dit wetende wat Hy wil doen. Jesus wou sy dissipels toets, en ek kan net dink hoe hulle onder mekaar gedebatteer en probeer planne maak het. Andreas sê toe vir Jesus hulle het maar net vyf brode en twee vissies, maar dit gaan vanselfsprekend nie genoeg wees nie.

Hoeveel keer gaan ons na Jesus toe met dit wat ons het, en sê dat dit nie genoeg is nie, sonder om in ag te neem wat Jesus ons kan bied?

Jesus gee opdrag vir die mense om te gaan sit, en ek kan net dink wat deur die dissipels se gedagtes gegaan het. Dalk het hulle gedink hier is dit nou, ons gaan die manna en kwartels self beleef, maar tot hulle skok vat Jesus dit wat hulle het, dank God daarvoor en begin breek dit Dan gee Hy hulle opdrag om dit uit te deel.

Ek kan my net indink wat Petrus se reaksie was toe hy dit in die eerste ry begin uitdeel het. Dalk het hy die eerste paar mense geskel om nie te veel te vat nie, maar toe hy aan die einde van die ry kom, sien hy die brood raak nie op nie.

Die kern van hierdie wonderwerk is dat die brood nie in Jesus se hande meer geword het nie, maar in die hande van sy dissipels.

Ons is geneig om so te fokus op dit wat ons nodig het, om te doen wat God van ons vra, dat ons nie wil begin voordat ons genoeg het nie. Jesus wil nooit hê dat jy moet swaarkry nie, maar Hy vra jou om te gebruik wat Hy al klaar vir jou gegee het.

Wat so mooi in hierdie gedeelte is, is dat ons iets van Jesus se hart vir die mense raaksien, ‘n omgee vir nie net die mense se geestelike welstand nie, maar ook dat Hy omgee vir hulle fisieke behoeftes.

Ons word van kleins af geleer om te werk vir dit wat ons in die lewe wil hê, en daar is niks fout met harde werk nie, maar ons kom met dieselfde mentaliteit na God toe, so gefokus op die fisiese dinge, waar Jesus net vra: "beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee."

Wat is die Koninkryk van God? Dit is sy heerskappy in ons lewens, sy teenwoordigheid in elke situasie. As ek dit nastreef, sal alles in pas kom met sy Woord vir my lewe.

Gebedsriglyn

Here, help my om nooit te dink dat enigiets vir U onmoontlik is nie, nooit te dink dat U nie die onmoontlike kan doen met dit wat ek tot my beskikking het nie. Heilige Gees help my om altyd gefokus te wees op God se heerskappy in my lewe en altyd tyd in SY teenwoordigheid te wil deurbring, want ek weet in die teenwoordigheid van God verander dinge.

Scripture

Day 4Day 6

About this Plan

Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met Wonderwerke

Afwagtend - 'n Lewe Gevul Met Wonderwerke. In ons lewens is daar volop geleenthede vir wonderwerke om te gebeur. Die uitdaging is gewoonlik om onsself in pas te kry met God se plan vir ons lewens sodat ons hierdie wonderwerke kan beleef.

More