Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met WonderwerkeSample
As jong seun was ek nogal bekend as ‘n waaghals en ek het daarby ‘n paar skete opgetel voordat ek nog op laerskool was, dit was steke, gebreekte bene en selfs ‘n gekraakte nekwerwel. Soos ‘n man ouer word, voel jy hierdie skete in jou liggaam.
Dit laat my nadink oor een van die wonderwerke wat ons van Jesus lees. Jesus bevind Homself in Jerusalem by die Skaappoort waar daar ‘n bad was, bekend vir sy genesende eienskappe. By hierdie bad van Bethesda het daar op ‘n bepaalde tyd ‘n engel van die Here neergedaal en die waters geroer. Die eerste persoon wat dan in die water ingaan, is genees.
Ons lees van ‘n man wat daar gelê het, ons weet nie hoe lank hy al daar gelê het nie, maar ek kan myself indink dat hy al naby aan moedverloor se vlakte was. Jesus kom na hom toe en vra hom ‘n vraag wat maklik soos ‘n retoriese vraag kan lyk: “Wil jy gesond word?”
Jesus het geweet van sy siekte, maar wou uit die man se mond hoor dat hy werklik gesond wou word.
Die verskonings begin dadelik dat niemand hom in die water help nie, en teen die tyd wat hy daar kom was iemand anders voor hom in die water. Ek kan myself net indink dat hy dalk ‘n paar keer net, net te laat daar was en uiteindelik was dit vir hom maklik om net moed op te gee.
Vir 38 jaar lank het hy hierdie siekte, vir 38 jaar lank was hy ‘n slaaf van sy omstandighede. Kom ons maak dit meer persoonlik, hoe lank leef jy al as ‘n slaaf van jou omstandighede, of dit siekte of iets anders is?
Dalk het jy al op ‘n plek gekom wat jy vir jouself sê dat dit maar jou lot is wat jy moet dra? Dalk is dit maar soos Paulus se doring in die vlees waarmee ek moet saamlewe?
Ek wil vandag vir jou sê jy hoef nie ‘n slaaf daarvan te wees nie; dit is nie wat God vir jou bepaal het nie. Die oomblik toe Jesus aan die kruis verklaar het “dit is volbring”, was hierdie situasie ook volbring gewees. Toe Jesus gesê het Hy kom om lewe en dit in oorvloed te bring, was dit vir ook jou gewees.
Jesus sê vir die man: Staan op, tel jou goed op en loop", en dadelik was die man gesond. Ons raak so vasgevang in ons omstandighede dat dit deel geword het van ons lewens en ons raak so goed om verskonings uit te dink hoekom ons nog daarin vasgevang is, so vasgevang in selfbejammering dat ons dit mis wat Jesus in ons lewens wil doen, dat Hy ons wil vrymaak.
Gebedsriglyn
Here, dankie dat U bepaal het dat ek lewe en dit in oorvloed sal hê. Help my om nie so vasgevang te raak in my omstandighede dat ek dit mis wat U vir en deur my wil doen nie.
Scripture
About this Plan
Afwagtend - 'n Lewe Gevul Met Wonderwerke. In ons lewens is daar volop geleenthede vir wonderwerke om te gebeur. Die uitdaging is gewoonlik om onsself in pas te kry met God se plan vir ons lewens sodat ons hierdie wonderwerke kan beleef.
More