YouVersion Logo
Search Icon

Stil Oomblikke Saam Met JesusSample

Stil Oomblikke Saam Met Jesus

DAY 2 OF 7

Wat nog voorlê

Ek weet dit voel vir jou of die swaarkry wat jy nou beleef op ’n gebrek aan my liefde en omgee dui. Jy dink dalk selfs as Ek jou liefgehad het, sou jy nie so ’n storm moes deurstaan wat jou in ’n diepe wanhoop laat beland nie. Wanneer jy uitroep: “Waar is God?” is Ek die een wat by jou is om jou te verseker dat die Vader in beheer is en dat jy vrede kan ervaar omdat sy genade – en Ek – jou sal dra.

Al voel dit vir jou of jy dit nie sal maak nie, sal jy. Jou hemelse Vader berei vir jou ’n wonderlike toekoms vir alle ewigheid voor. Tog weet Ek jy moet nou sy goedheid ervaar. Sy beloftes verseker jou dat Hy die wonde genees, Hy troos dié wat hartseer is en bring weer lewe in dinge wat dood was. Jou hoop kan in sy trou geanker wees. Daar is niks wat Hy nie kan doen nie, en al voel dit dalk of jy nooit deur hierdie storm gaan kom nie – sal Hy ’n weg voorsien. Hou vas aan hoop – hou jou fokus op My terwyl die storm woed. En as daar teleurstelling en wanhoop in jou lewe kom, kan jy verseker wees dat die Vader sy kragtige teenwoordigheid deur jou omstandighede wil duidelik maak. Hy sal kom, op presies die regte oomblik, op presies die regte manier, en jy sal verseker wees van dit wat Hy belowe het: Sy genade het geen einde nie en sy trou is groot. Sy lig sal skyn in jou donkerte en deur die storm … groot vreugde lê vir jou voor.

GROEI IN GELOOF: Jy kan dit nie nou sien nie, maar eendag sal jy alles duidelik kan sien, soos God dit sien. Vra Hom om sy plan aan jou te openbaar, vir jou vrede te gee en jou te versterk vir die geloofsreis deur die storm.

Scripture

Day 1Day 3

About this Plan

Stil Oomblikke Saam Met Jesus

Ons dink dalk dat God nie van ons probleme bewus is nie. Dit is egter nie die geval nie. Jesus het gesê ons sal swaarkry in hierdie wêreld beleef. Maar Hy het ook belowe dat Hy ons nooit alleen sal laat nie. Hierdie 7 oordenkings deur Cherie Hill uit STIL OOMBLIKKE SAAM MET JESUS is geskryf asof Jesus gedurende hierdie moeilike tye sélf met jou praat.

More