YouVersion Logo
Search Icon

Vertrou God Te Midde Van SwaarkrySample

Vertrou God Te Midde Van Swaarkry

DAY 14 OF 29

Lees: Klaagliedere 5

SOAP: Klaagliedere 5:21

Bekeer U ons tot U, Here,

dat ons bekeer kan wees,

gee ons weer die bestaan van vroeër.

Oordenking

Soos ons tyd in die boek van Klaagliedere ten einde loop, vind ons 'n eenvoudige, dog diepgaande gebed van rou te midde van al die onbeskryflike lyding en pyn. Die skrywer glo dat God nie wegdraai van 'n berouvolle hart nie en medelydend en oorvloedig in liefde en getrouheid is (Eksodus 34:6). Hy pleit by God om die mense van Juda toe te laat om na Hom terug te keer sodat hulle lewens gered en vernuwe kan word. Jeremia weet dat daar geen lewe of hoop buiten die Here is nie.

In die hele boek van Klaagliedere lees ons die verslag van 'n volk wat besig was om te maai wat hulle gesaai het. Dit is 'n bekende Bybelse beginsel, wat ook deur Paulus in die boek Galasiërs geleer word: “wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes” (Galasiërs 6:8).

Soos ons meer leer oor die praktyk van weeklaag in die daaglikse lewe van 'n Christen, laat ons nooit vergeet wie die bron van alle lewe, vreugde, vernuwing en geloof is nie. Dit is ons Here, ons Hemelse Vader, ons heilige en regverdige Skepper wat ons meer liefhet as wat ons kan dink, wat sonde meer haat as wat ons kan dink, en wat meer heilig is as wat ons kan dink. Mag die versoek vir herstel en vernuwing in Klaagliedere 5:21 'n gereelde gebed word vir dié van ons wat God innig lief wil hê. Ons moet Hom vra om ons in staat te stel om daagliks saam met Hom te wandel, sodat ons nooit sal wegdraai en Hom vergeet nie.

Met die uitsondering van hoofstuk 3, word die boek van Klaagliedere dikwels in Bybelstudies oorgeslaan. Miskien is dit omdat dit worsteling in ons aanwakker, wat ons dwing om God, sy voornemens en sy aard te bevraagteken. Sulke bevraagtekening is egter wat God se kinders nader aan Hom bring. Dit is in die diep, ware, sielsondersoekende proses waar ons pragtige, lewegewende antwoorde vind oor die God wat ons ken en dien. Ons vind ook diepgaande vrede in antwoord op daardie vrae wat, vir hierdie tyd op aarde, net met geloof vervul kan word.

Klaagliedere is 'n poëtiese boek en is grotendeels in die vorm van 'n lettervers geskryf – van A tot Z. Dit is bedoel om as geheel gelees te word, sonder om halfpad op te hou. Dit is 'n pragtige beeld van die praktyk van weeklaag. Ons is bestem om deur die hele proses te gaan, een stap op 'n slag. Nadat ons tot God geroep het en berou getoon het oor ons sonde, wend ons ons tot die beoefening van vertroue en lofprysing.

Day 13Day 15

About this Plan

Vertrou God Te Midde Van Swaarkry

Voel dit vir jou asof die wêreld oral om jou ineengestort het? Voel dit vir jou asof jy deur die een storm op die ander getref word? Het jy begin wonder waar God te midde van al jou hartseer is? Vriendin, jy is nie alleen in jou swaarkry nie.

More