Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is Sample
Afhanklikheid
As ons ooit die behoefte gehad het aan iets of iemand op wie ons kon staatmaak, is dit nou, in hierdie laaste dae. Oral waar ons kyk, vind ons dat dinge uitmekaarval. Die integriteit van mense na wie ons eens opgekyk het, is toe nie onkreukbaar nie. Die organisasies waar ons ons geld belê het, stort in duie. Sporthelde wat ons navolg en wat ons aan ons kinders as rolmodelle voorhou, blyk op die ou end swak rolmodelle te wees. As ons ooit iets konkreets nodig gehad het om ons hoop op te plaas, is dit nou.
Die goeie nuus is dat ons hoop in die Here Jesus Christus is. Hy bly dieselfde: gister, vandag en tot in ewigheid. Die Here sê as jy Hom gesien het, het jy die Vader gesien. Hy sê Hy is die Woord. En 1 Johannes 5:7-8 sê: “Daar is dié drie wat getuienis aflê: die Gees, die water en die bloed en al drie is dit eens.” Jesus is die Woord. Hy is die Een op wie ons kan vertrou, ongeag wat gebeur, ongeag hoe moeilik die lewe raak. Jesus is betroubaar.
Ek het so pas teruggekeer van ’n reis na Wes-Australië waar ek die verwoesting van ’n uitgerekte droogte aanskou het. Ek het die gesindheid van mense gesien wat werklik sukkel. En tog kon ek met vertroue die Woord aan hulle verkondig en vir hulle van Jesus Christus vertel. Ek is so lief vir die Here omdat Hy so getrou is. Ek was skaars terug in my geliefde Suid-Afrika toe ek die nuus oor die radio hoor dat goeie, swaar en deurdringende reën, die beste reën in tien jaar, in Australië geval het. Loof die Here! Ons kan op Hom vertrou.
Ongeag wat jou omstandighede vandag is, plaas jou vertroue in die Woord van God. Doen presies wat Hy van jou vra; niks meer nie en niks minder nie. Moenie die Woord van God probeer verander nie. Moenie eens een jota of tittel daaraan verander nie, want dit is algenoegsaam en al wat jy ooit sal nodig hê. Wat die Here sê, sal Hy doen. Jy kan op Hom vertrou.
Scripture
About this Plan
“As jy vandag jou vertroue in iemand wil plaas, is daar niemand wat jou vertroue meer verdien nie as die Goeie Herder, die Here Jesus Christus. Ek kan hierdie Herder van harte aanbeveel. Sedert die dag dat ek die eerste keer my vertroue in Hom geplaas het, het Hy my nog nooit in die steek gelaat nie.” Deel Angus Buchan se vertroue-reis in 14 oordenkings uit sy dagboek ’N MOSTERDSAAD.
More