Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is Sample
In God se hande
Weet jy hoe bevrydend dit is om jou situasie in God se hande oor te gee? Ons het eintlik so min beheer oor die meeste sake en situasies, en tog raak ons bekommerd en bang, neerslagtig en soms selfs depressief omdat ons nie weet wat die toekoms inhou nie. Job het ’n stadium in sy lewe bereik toe hy swaar beproef is en die duiwel baie druk op hom geplaas het. Job het gesê: “Die Here het vir my gegee, en die Here het weer weggeneem.”
Terwyl jy hierdie oordenking lees, moet jy dalk ’n situasie hanteer wat vir jou baie moeilik is: jou onderneming is in gevaar en moet dalk toemaak; jou kind is besig om te sterf; dalk het jou geliefde jou verlaat; of miskien het jy gehoor jou diens word nie meer benodig nie. Jy is verpletter weens hierdie omstandighede en jy kan niks daaraan doen nie. Nou is die tyd om te begin bid. Dit is die krag van gebed wat berge versit, maar nie sommer enige gebed nie. Soos ons al dikwels gesê het, is dit die gebed van ’n gelowige wat berge versit. Markus 11:24 sê: “Ek verklaar vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou.” Laat alles in God se hande oor. In sy oneindige liefde, wysheid en deernis sal Hy jou situasie verander.
Wat verstommend is, is dat wanneer jy hierdie situasie oorleef, jy soos Sadrag, Mesag en Abednego sal wees. Koning Nebukadnesar het hulle beveel om voor sy afgodsbeeld te buig en hulle het geweier. Toe laat gooi hy hulle in die brandende oond. Selfs die mense wat hulle in die oond moes gooi, het verbrand omdat die oond so warm was. Tog het hierdie drie mans nie eens na rook geruik toe hulle uit die brandende oond gestap het nie. Hulle was ongedeerd, want daar was ’n vierde Persoon saam met hulle in die oond.
Vertrou vandag op God. Gee jou probleem aan Hom oor en kyk wat Hy in jou kommerwekkende situasie sal doen.
Hierdie oordenkings is saamgestel uit ’N MOSTERDSAAD deur Angus Buchan © Christelike Uitgewersmaatskappy.
Scripture
About this Plan
“As jy vandag jou vertroue in iemand wil plaas, is daar niemand wat jou vertroue meer verdien nie as die Goeie Herder, die Here Jesus Christus. Ek kan hierdie Herder van harte aanbeveel. Sedert die dag dat ek die eerste keer my vertroue in Hom geplaas het, het Hy my nog nooit in die steek gelaat nie.” Deel Angus Buchan se vertroue-reis in 14 oordenkings uit sy dagboek ’N MOSTERDSAAD.
More