YouVersion Logo
Search Icon

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is Sample

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

DAY 12 OF 14

Kyk op na die Here

Baie jare gelede toe my oudste seun nog op universiteit was, het hy een vakansie huis toe gekom en gesien dat ek en sy ma baie moeg was. Ons het deur ’n besonder beproewende tyd op die plaas gegaan. Die oes het nie goed gelyk nie, want daar was ’n knellende droogte. My seun het my en sy ma aangemoedig om ’n paar dae te gaan rus terwyl hy na die plaas kyk, wat ons toe dadelik gedoen het.

Hierdie jong man, wat baie lief vir die Here is, het uitgegaan na die lande en oor die mielieplante gebid. Hy het tot God uitgeroep om reën te stuur. Op ’n dag het hy met die bakkie op die plaas rondgery. Toe hy in die middel van ’n land kom, het ’n groot swart wolk in die verte verskyn. Hy was so opgewonde, want hy kon die vlae reën oor die berge net voor die plaas sien neerval. Die storm het oor die plaas losgebreek; groot reëndruppels het op die stowwerige landerye geval. Elke keer wanneer 'n druppel die grond getref het, het daar ’n stofwolkie opgestyg. Ons seun was so opgewonde. Maar toe kom daar ’n sterk oostewind op en verdeel die storm. Die een helfte van die wolke het na links beweeg en die ander helfte na regs.

My seun moes toekyk hoe die reën oor die berge aan sy linkerkant en aan sy regterkant beweeg, maar nie op ons plaas nie. Hy was verpletter. Ontnugter het hy in sy bakkie geklim en na die kantoor op die plaas gery, daar waar hy sy Bybel neergesit het. Hy het die Bybel oopgemaak en die Here het dié Skrifgedeelte vir hom gegee: “As jy heeldag na die wind kyk, sal jy nooit saai nie. En as jy na die wolke kyk, sal jy nooit oes nie” (Pred. 11:4). Toe hy dit lees, het hy op sy knieë neergeval en gehuil. Hy het God om vergifnis gevra.

Die volgende oggend het ’n sagte reën oor die plaas neergestuif, op die droë en stowwerige landerye, reën wat die gewasse kon indrink. Daar was geen skade, geen hael en geen vloede nie. Net sagte en lewegewende reën. Moet daarom nie vandag op die elemente of op jou eie vermoëns vertrou nie. Vertrou net op God.

Day 11Day 13

About this Plan

Vertrou Op Die Een Wat Getrou Is

“As jy vandag jou vertroue in iemand wil plaas, is daar niemand wat jou vertroue meer verdien nie as die Goeie Herder, die Here Jesus Christus. Ek kan hierdie Herder van harte aanbeveel. Sedert die dag dat ek die eerste keer my vertroue in Hom geplaas het, het Hy my nog nooit in die steek gelaat nie.” Deel Angus Buchan se vertroue-reis in 14 oordenkings uit sy dagboek ’N MOSTERDSAAD.

More