Kyknet Lydenstyd Gids 2022Sample
“Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ‘n duif sien neerdaal en op Hom kom. Daar was ook ‘n stem uit die hemel wat gesê het: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” (Matt 3:16-17)
‘n Kardinale oomblik in ons reis saam met God, is die oomblik wanneer ons ontwaak tot wie ons werklik is. Om nie te weet wie ons is, of aan Wie ons behoort nie, kan tragiese gevolge hê. Aan die een kant, wanneer ons onseker is oor ons identiteit, versprei minderwaardigheid soos ‘n virus deur ons lewens. Ons dink goed soos, ‘Ek is ‘n nikswerd’, ‘Ek kan niks reg doen nie’, ‘Ek beteken niks vir enigiemand nie’, ‘Ek kan myself nie aanvaar nie’, en nog baie meer. Aan die ander kant, kan ons in ons onsekerheid oor ons identiteit heeltemal na die ánder uiterste beweeg. Ons sit onsself op ‘n troontjie en fabriseer indrukwekkende beelde van onsself as suksesvol, genoeg, en altyd bekwaam. Niks maak ons banger as die gedagte dat iemand deur hierdie fasade sal sien nie. Ons leun té swaar op ons sterk punte, sukkel om ons swakhede te erken, en glo dat ons enigiets kan vermag.
In ons soeke na identiteit, ontmoet die gekruisigde en opgestane Here ons nét waar ons is. In sy menslikheid het Hy óók gewonder wie Hy was. Deur die loop van sy lewe, soos ons Hom deur die evangelies volg, het Hy deurlopend ‘n nuwe bevestiging van sy identiteit nodig gehad. Anders as hoe ons gewoonlik te werk gaan, het Jesus na sy Abba Vader se stem geluister, daardie stem vertrou, en die waarheid van daardie stem vir sy lewe aanvaar. Soos ons duidelik kan sien in die vers van die week: Hy het agtergekom dat Hy die Vader se geliefde Seun was, oor wie Hy Hom verheug. Die goeie nuus vir 'óns is dat Jesus, die unieke Geliefde Seun van God, ons óók help ontdek wie ons waarlik is. Ons hoop vir hierdie week, is dat ons sal ontwaak tot die goeie nuus dat Hy ons Godgegewe identiteit daarstel.
WIE IS EK?
deur Deitrich Bonhoeffer (uit Engels vertaal)
Wie is ek? Hulle vertel my dikwels
Ek het uit die gevangenskap van my sel gekom: Kalm, vrolik, ferm,
Soos 'n landheer uit sy plattelandse huis.
Wie is ek? Hulle vertel my dikwels
Ek het met my bewaarders gepraat
Vryelik en vriendelik en duidelik,
Asof ek in beheer was.
Wie is ek? Hulle vertel my ook ek het die dae van my teëspoed verdra — sommer so, glimlaggend, trots, soos iemand wat gewoond is om te wen.
Is ek dan regtig wat ander mense van my sê?
Of is ek net wat ek van myself weet?
Rusteloos en verlangend en siek soos 'n voëltjie in 'n kou,
Sukkelend om asem te haal, asof hande my keel toedruk, smagtend na kleure, na blomme, na die stemme van voëls,
Dorstend na vriendelike woorde, na buurmanskap,
Rondgeslinger in afwagting van groot gebeure,
Magteloos, bewende vir vriende op 'n oneindige afstand,
Uitgeput en leeg gebid, gedink, gemaak,
Swak, en gereed om alles vaarwel toe te roep.
Wie is ek? Dit of dat?
Is ek vandag een mens en môre iemand anders?
Is ek albei gelyktydig? 'n Skynheilige voor ander?
En voor myself 'n veragtelike, beklaenswaardige swakkeling? Of is iets in my nog soos 'n verslane weermag, vlugtende in verwarring, weg van oorwinning wat reeds behaal is?
Wie is ek? My eensame vrae spot my. Wie ek ook al is, U weet, o God, ek behoort aan U.
Die Boodskap
Sondag preek wat die week se tema inlei deur Trevor Hudson
Scripture
About this Plan
Welkom op die Lydenstydreis. Tydens hierdie ervaring word jy genooi na ‘n paar ontwakings. Die doel van die reis is om te ontwaak tot die lewe. Lewe is God en lewe is saam met God. Ons gaan fokus op die ontwaking van myself, verlange, die lewe, vriendskap en roeping.
More