YouVersion Logo
Search Icon

Die Stryd in jou Gedagtes DagstukkiesSample

Die Stryd in jou Gedagtes Dagstukkies

DAY 5 OF 14

"Ek kan dit nie verhelp nie!"

“Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek. Ek roep die hemel en die aarde as getuies vir die keuse wat jy gaan maak. Mag jy tog die lewe kies sodat jy en jou nageslag mag lewe! - DEUTERONOMIUM 30:19

Wanneer God oor verkeerde gedrag met ons praat, is dit maklik genoeg om te sê: "Ek kan dit nie verhelp nie'", maar dit verg moed en geloof om te sê: ’’Ek is bereid om verantwoordelikheid te neem en my lewe reg te kry.’’

Vermyding, wanneer ons nie probleme in die gesig staar nie, is ‘n groot probleem. Verkeerde dinge verdwyn nie net omdat ons weier om dit te erken nie. Ons kruip daarvoor weg, en solank as wat ons dit doen, het dit mag oor ons. Kwessies wat lewend begrawe word, sterf nooit.

Vir baie jare het ek geweier om die seksuele mishandeling in my kinderjare te hanteer. My pa het my mishandel, dus het ek die huis verlaat die week toe ek agtien jaar oud geword het. Ek het gedink ek kan wegkom van die probleem deur weg te gaan, maar ek het nie besef dat ek die probleem in my siel gehad het nie. Dit was in my gedagtes, houdings en woorde. Dit het my optrede en al my verhoudings beïnvloed. Ek het my verlede begrawe. Ons hoef nie in die verlede te leef nie - ons word deur die Woord van God aangemoedig om dit te vergeet en te laat gaan. Dit beteken egter nie dat ons die gevolge daarvan kan ignoreer en voorgee dat ons nie seer het nie.

Ek het baie slegte gedrag en negatiewe houdings gehad. Ek het ook baie verskonings gehad. Ek het niks van die verlede hanteer nie; ek het myself net jammer gekry en gesê: ‘’Ek kan dit nie verhelp nie. Dit is nie my skuld dat ek mishandeld was nie.’’ En dit was nié my fout nie, maar dit was my verantwoordelikheid om God toe te laat om my te help om die gevangenskap te oorkom wat ek ervaar het, as gevolg van daardie mishandeling.

God het my begin vry maak, deur al die verkeerde gedagtes wat ek aanvaar en toegelaat het, te hanteer. My gedagtes moes verander voordat my lewe kon verander. Aanvanklik wou ek nie  verantwoordelikheid neem vir my gedagtes nie. Ek het gedink, ek kan nie verhelp wat ek dink nie - dinge kom net in my kop! Uiteindelik het ek geleer dat ek my eie gedagtes kon kies, en dat ek dinge doelbewus kon dink. Ek het geleer dat ons nie elke gedagte wat in ons gedagtes kom, hoef te aanvaar nie. Ons kan die verkeerde gedagtes verwerp en vervang met die regte gedagtes.

Ek het geleer, dat in plaas daarvan om hulpeloos te voel oor die dinge wat my gedagtes vul, ek iets positiefs kan - en moet - doen.

Baie van ons denke is 'n gewoonte. As ons gereeld oor God en goeie dinge dink, kom goddelike gedagtes natuurlik. Duisende gedagtes vloei elke dag deur ons kop. Ons voel miskien dat ons geen beheer daaroor het nie, maar ons het wel. Alhoewel ons nie moeite hoef te doen om verkeerde gedagtes te dink nie, moet ons baie moeite doen om goeie gedagtes te dink. Daar sal ‘n stryd wees terwyl ons die veranderings aanbring.

Ons gedagtes is die stryd, en Satan se primêre manier om sy bose plan vir ons in werking te stel, is deur ons gedagtes. As ons voel dat ons geen mag oor ons gedagtes het nie, sal Satan ons verstrik en oorwin. In plaas daarvan, kan ons besluit om op goddelike maniere te dink. Ons maak gedurig keuses. Waar kom hierdie keuses vandaan? Dit kom van ons gedagtes af. Ons gedagtes word ons woorde en ons optrede.

God het ons die mag gegee om te besluit - om regte denke bo verkeerde denke te kies. Sodra ons egter die keuse gemaak het, moet ons voortgaan om die regte gedagtes te kies. Dit is nie 'n eens-en-vir-altyd-besluit nie, maar dit word makliker. Hoe meer ons ons lewens met die lees van die Bybel, gebed, lof en gemeenskap met ander gelowiges vul, hoe makliker is dit vir ons om voort te gaan om regte gedagtes te kies.

Dit klink miskien of ek sê dat om die Christelike lewe te probeer uitleef, niks anders as 'n voortdurende stryd is nie. Dit is deels waar, maar dit is slegs 'n stukkie van die verhaal. Te veel mense wil oorwinnende Christelike lewens lei, maar hulle wil nie die stryd voer nie. Oorwinning beteken egter om hindernisse te oorkom. Ons moet ook onthou dat dit moeiliker is om 'n lewe van ongehoorsaamheid aan God te leef as om te kies om in oorwinning te leef. Ja, daar is ‘n stryd, maar dit is op die ou end die moeite werd.

Om op die regte manier te dink, verg oefening, en dit is nie altyd maklik nie en dit voel ook nie vir ons natuurlik om net op die goeie te fokus nie. Maar as ons weet dat dit die weg na die lewe is - beide nou en in die ewigheid - is dit die moeite en stryd werd om positiewe gedagtes te dink.

Wanneer ons met twyfel en vrees gebombardeer word, is dit dan wanneer ons standpunt moet inneem. Ons wil nooit weer sê: ‘’Ek kan dit nie verhelp nie.’’ Ons wil glo en sê: ‘’God is met my, en Hy versterk my. God stel my in staat om te wen.” Die apostel Paulus het dit so gestel: ‘’Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning oor die sonde en die dood gee deur Jesus Christus ons Here! Dus, my geliefde broers en susters, staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.’’ (1 Korintiërs 15:57-58)

Ons kan kies. As ons nie kiesnie, kies ons wel. Deur nie die slegte gedagtes uit ons gedagtes te stoot nie, laat ons toe dat dit ons gedagtes binnedring en gevange neem.

Dit neem tyd om te leer om die goeie te kies en die kwade weg te stoot. Dit sal nie maklik wees nie, maar ons beweeg elke keer in die regte rigting as ons verantwoordelikheid neem en die regte keuses maak.

Almagtige God, herinner my daaraan dat ek elke dag keuses kan maak. Help my om my gedagtes dop te hou en slegs dié dinge te kies wat my sal help om die duiwel te oorwin en die stryd in my gedagtes te wen. In die Naam van Jesus. Amen.

Day 4Day 6

About this Plan

Die Stryd in jou Gedagtes Dagstukkies

Hierdie dagstukkies sal jou toerus met inspirasies van hoop om woede, verwarring, veroordeling, vrees, twyfel, te oorwin ... noem maar op. Hierdie insigte sal jou help om die vyand se komplot te ontbloot om jou te verwar met sy leuens, vernietigende denkpatrone te konfronteer, 'n oorwinning te vind in die transformasie van jou denke, krag te kry, aanmoediging en die belangrikste, oorwinning oor elke geveg in jou gedagtes.

More