Inleiding Tot Die TabernakelstudiesSample
HOEKOM IS DIE TABERNAKEL VOORSIEN?
Dit was God se woonplek onder Israel byna 500 jaar lank, vanaf die tyd van Moses met God by die berg Sinai tot en met die voltooiing van die tempel deur koning Salomo (1450 vC. – 960 vC.). Dus was die tabernakel net ’n tydelike woonplek. Die tabernakel is ook genoem:
· “Die tent van die Getuienis” – Numeri 17:7-8.
· “Die tempel van die tent van die getuienis” – Openbaring 15:5.
Die Heilige Skrif hou drie redes aan ons voor waarom God ’n tabernakel aan Israel gegee het.
- Dit was die plek waar die Here met die volk saamgekom het.
In Exodus 25:21-22 stel die Here dit duidelik dat Hy van die versoendeksel in die tabernakel af met die volk sal saamkom (vgl. Ex 29:42-43; Ex 30:6). Die versoendeksel was die plek waar die bloed wat vir die sonde versoening gedoen het, gesprinkel is (Lev 16:14,30). Die versoendeksel is dan die plek (hilasterion – Heb 9:5) waar die besprinkeling van die bloed God se toorn tevrede gestel het dat die sonde gestraf is. In 1 Johannes 4:10 verklaar die Skrif dat Jesus ons versoening (hilasterion) is. Hiermee verklaar Johannes dat Jesus dan die plek was waar God die sondaar ontmoet het. Die kruisdood van Jesus was die plek waar God se geregtigheid en sy genade mekaar ontmoet het. Dit was daar aan die kruis wat ons gesien het dat die genade van God die offer vir die sonde bring wat sy heiligheid en geregtigheid vereis het; aan die kruis, in Jesus, betaal God se liefde die straf wat sy geregtigheid vereis het.
- Dit was die plek waar die Here God onder sy volk gewoon het.
God wou onder sy volk kom woon om Hom as hulle God aan hulle te openbaar. “Ook moet hulle vir My ’n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon” (Ex 25:8). So lees ons dan ook in Exodus 29:45: “En Ek sal onder die kinders van Israel woon en vir hulle ’n God wees.” Dit is juis hoe Israel die ware God leer ken het. Die volke rondom hulle het elkeen sy eie god uitgedink, maar Israel het sy God ervaar en leer ken as die God wat Hom met sy volk bemoei het en wat met hulle geskiedenis gemaak het. Vandag woon die Here nie meer onder sy mense in ’n tabernakel wat met hande gemaak is nie, maar in die harte van sy kinders (1 Kor 3:16; 2 Kor 6:16; Ef2:19-22).
- Dit was die plek van die Getuienis.
By twee geleenthede word in Numeri 17:7-8 na die tabernakel verwys as “die tent van die Getuienis”. Waarvan het die tabernakel dan getuig? In die Allerheiligste plek was daar die verbondsark met die tien gebooie op kliptafels gegraveer. Hierdie twee kliptafels spreek van ’n gebroke wet. Die ark met die gebroke wet was bedek met die versoendeksel van goud wat presies op die verbondsark gepas het.
Binne-in die ark was, behalwe die twee kliptafels van die Wetsverbond, ook die goue kruik met manna wat getuig het van God se voorsiening vir die veertig jaar van die volk Israel se woestynreis. Saam daarmee was die staf van Aäron wat gebloei het om te getuig watter stam die Here God uitverkies het om die priesterlike stam te wees (Heb 9:4).
Die Allerheiligste plek in die tabernakel getuig dus van
- God,
- ’n gebroke wet,
- genade,
- bloed en
- ’n bedekking.
Dit getuig dus van die feit dat ’n Heilige God in genade deur bloed die gebroke wet volkome bedek het. Die primêre getuienis van die tabernakel was dus ’n profetiese getuienis van Golgota. Die tabernakel was ’n profesie van Golgota!
In Christus vind ons dus die volkome antwoord op die geestelike betekenis van die tabernakel. In Johannes 1:14 word gesê: En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – (letterlik: “tabernakel”) – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol genade en waarheid.
About this Plan
Die tabernakel met alles wat daarmee gepaardgaan, spreek tot ons van Christus (Heb 10:20). Die Ou Testament is die slot, die Nuwe Testament is die sleutel; en wat beteken ’n slot sonder ’n sleutel? Net so is kennis van die Ou Testament nodig om die Nuwe Testament reg te verstaan. Die twee vul mekaar aan en vorm een, volmaakte geheel. Leer meer oor die tabernakel en die gepaardgaande rituele.
More