Inleiding Tot Die TabernakelstudiesSample
HOE IS DIE MATERIAAL VIR DIE OPRIGTING VIR DIE TABERNAKEL VOORSIEN?
Die vraag is: Waar kom die ontsaglike hoeveelheid boustof vandaan wat in die oprigting van die tabernakel gebruik is? Ons antwoord vind ons in Exodus 3:21-22. “...en as julle dan trek, moet julle nie met leë hande trek nie, maar elke vrou moet van haar buurvrou en van haar wat in haar huis vertoef, silwer en goue voorwerpe en klere eis . . . en so Egipte berowe.” Dit is ’n vervulling van die belofte aan Abram meer as vierhonderd jaar van tevore: “Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed” (Gen 15:14).
So het die slawevolk Israel dan as ’n skatryk volk Egipte verlaat omdat die volk volgens Exodus 11:2-3 en Exodus 12:35-36 gehandel het. Hierdie opvraag van kosbare artikels deur die Israeliete was eenvoudig ’n vergoeding vir die jarelange-slawe arbeid wat hulle moes verrig het. Die eintlike doel van hierdie insameling was vir die bou en versiering van die tabernakel in die woestyn, wat hulle later sou oprig.
Toe die tyd vir die bou en oprigting van die tabernakel aanbreek, het Moses ’n beroep op die volk gedoen om ’n vrywillige offer aan die Here te bring (Ex 25:2; 35:4-9; 21-29). So geweldig was die reaksie van die mense dat Moses hulle later moes vra om nie meer artikels te bring nie (Ex 36:3-6).
Die Gees van die Here het Besáleël en Ohóliab geïnspireer om te fatsoeneer. Vervul deur die Heilige Gees, het die Gees hulle bekwaam gemaak om ander kunstenaars op te lei en te onderrig hoe om die kunswerk te skep (Ex 31:1-6; 35:30-35).
Die Here se metode van optrede is vandag nog dieselfde. Paulus stel dit aan ons dat daar “...verskeidenheid van genadegawes (is), maar dit is dieselfde Gees; en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here; en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk. Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is” (1 Kor 12:4-7). Dít alles is deur God wat ons ook bekwaam maak om sy Kerk op aarde te bou.
About this Plan
Die tabernakel met alles wat daarmee gepaardgaan, spreek tot ons van Christus (Heb 10:20). Die Ou Testament is die slot, die Nuwe Testament is die sleutel; en wat beteken ’n slot sonder ’n sleutel? Net so is kennis van die Ou Testament nodig om die Nuwe Testament reg te verstaan. Die twee vul mekaar aan en vorm een, volmaakte geheel. Leer meer oor die tabernakel en die gepaardgaande rituele.
More