YouVersion Logo
Search Icon

’n Dieper Verhouding Met God Deur Trevor HudsonSample

’n Dieper Verhouding Met God Deur Trevor Hudson

DAY 1 OF 5

Geskep deur liefde, in liefde, vir liefde

Ek en jy is nie toevallig hier nie. Ons is met liefde deur God in die lewe gebring. Ons is hier, nie omdat God eensaam was en geselskap nodig gehad het nie, maar omdat God ons hier wou hê. Elkeen van ons het iets spesiaals om in hierdie lewe te doen. In die woorde van ’n ou gesegde: “God stuur elke persoon na die wêreld met ’n spesiale lied om te sing, met ’n spesiale boodskap om af te lewer, met ’n spesiale liefdesdaad om uit te voer. Niemand anders kan my boodskap aflewer of my liefdesdaad betoon nie. Net ek kan dit doen.” 

Ons is geskep deur liefde, in liefde, vir liefde. Elkeen van ons is geroep om God se liefde op ’n unieke manier vir ander werklik te maak. Daar is ’n wonderlike vers wat dit bevestig: “. . . want ons is God se handewerk. Hy het ons in ons eenheidsband met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe” (Ef. 2:10). 

Ons kry ons passie in die lewe terug wanneer ons nadink oor hierdie wonderlike God-feit oor onsself: Ons is wesens van Goddelike liefde wat genooi is om God se liefde soos helder strale in die wêreld uit te dra!

Neem ’n paar minute en stel jou voor dat jou ma swanger is met jou. Dink hoe sy lewe geskenk het aan jou. Op daardie oomblik het ’n nuwe werklikheid die wêreld binnegekom wat nog nooit bestaan het nie: jy! Dieselfde God wie se liefde hierdie heelal tot stand gebring het, het nou hierdie wonderwerk geskep – jou lewe. Wees dankbaar vir jou unieke lewe en laat toe dat God se vreugde oor jou jou hart binnedring.

Scripture

Day 2

About this Plan

’n Dieper Verhouding Met God Deur Trevor Hudson

Hierdie 5-dag-leesplan oor ’n dieper verhouding met God sal lesers daaraan herinner dat God hulle baie liefhet. Dit beklemtoon hoe belangrik dit is om te midde van ons besige lewe tyd alleen met God deur te bring. Elke dag bevat gedagtes oor ’n tema (soos gebed en hoop) en eindig met ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Trevor Hudson se boek, “’n Dieper verhouding met God”.

More