YouVersion Logo
Search Icon

Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynSample

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

DAY 10 OF 40

VOORTDURENDE GEBED

“ Wees altyd vol blydskap. Praat met die Here elke keer as julle die kans het. Moet nooit moeg word om te bid nie. Hy hoor! Wees heeltyd dankbaar teenoor God, wat ook al met julle gebeur. Dan stap julle op die pad wat God vir julle beplan het.” – 1 Tess 5:16–18 (DB)

Hy is 'n monnik, omdat hy dag en nag, op sy eie, in gesprek met God is. – Woestyngesegde

Die doel van die woestynvaders was om voortdurend in God se teenwoordigheid te leef, om elke oomblik ’n bewussyn van sy teenwoordigheid te hê, om ’n vriendskap met God te kweek. Die pad na hierdie bewussyn is deur gebed, om sonder ophou te bid. (1 Tess 5:17) Dit was om die lewe te leef binne die konteks van ’n bewussyn van God, of ek nou slaap, loop, werk, praat, rus of lees, ek is voortdurend van Hom bewus, ek is in Hom. In my hart is daar ’n verbintenis met en ’n bewussyn van Hom, dit word die “gebed van die hart” genoem. Henri Nouwen beskryf dit as volg: “Om in die teenwoordigheid van God te wees, met jou gedagtes in jou hart, is die wese van die gebed van die hart.”

So ’n lewe kom egter net tot stand as ek ’n plek en ’n vasgestelde tyd het waar dit kan begin. Henri Nouwen sê: “Die monnik wat sy hele lewe 'n aanhoudende gebed wil maak, weet dat dit net moontlik is in die konteks van 'n vaste, daaglikse roetine.” As ek alleentyd met Hom deurgebring het en soos 'n vriend met Hom gepraat het en alles wat in my is met hom gedeel het, gaan ek die dag in met ’n gebed op my lippe en in my hart. Soos ’n kompas ’n ware noord het en altyd na noord terugkeer, is God my ware noord. So draai my gedagtes, my gesprekke en my hart, die heeltyd terug na Hom toe. Een van die belangrikste dinge tydens die dag wat die ou woestynvaders beoefen het, was “ruminatio” of “herkou” genoem. Dit was om met ’n kort gebed te leef en so dikwels as wat jy daaraan dink dit net te bid en terug te draai na God. As jy wakker word in die middel van die nag, bid jy dié gebed en weer in die oggend as jy opstaan. As jy werk, as jy loop, tussen al jou gesprekke deur, bid jy. Een van die oudste gebede is die Jesusgebed “Here Jesus Christus, Seun van God, wees my genadig.” ’n Korter weergawe van die gebed is “Jesus Christus wees my genadig.” Op hierdie manier begin my hart te bid en bevind ek myself gedurig in God se teenwoordigheid.

GEDAGTE VIR DIE DAG

Bid sonder ophou. God is by my en in my. Ek praat gedurig met Hom in my hart.

VIR NADENKE

Het jy ’n kort gebed gevind wat jou diepste smagting na God verwoord? Dink aan die gebed wat vandag in jou hart geleef het. Hoe het jy hierdie voortdurende gebed ervaar? Vra God vir ’n kort gebed wat Hy wil hê jy môre moet bid. Word bewus van die gebed wat reeds binne jou leef.

Day 9Day 11

About this Plan

Lydenstyd Reis - Water in Die Woestyn

Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.

More