Nader Aan God, Nader Aan Mekaar Deur Ewald & Beatrix van RensburgSample
Jesus is uniek!
Beste en slegste
Gee elkeen ’n kans om oor die beste en slegste oomblik van elkeen se dag te gesels.
Waar het jy Jesus vandag ontmoet?
Gesels met mekaar oor waar elkeen vandag vir Jesus ontmoet het, of oor iets of iemand wat jou aan Hom laat dink het.
• Wie was jou gunstelingheld toe jy ’n kind was, en wie is dit nou? Hoekom juis dié persoon?
• Hoekom is Jesus volgens Hebreërs 7 die tipe held wat jy vir altyd kan volg?
• As jy op grond van Hebreërs 7 ’n slagspreuk oor Jesus kon skryf, wat sou dit wees?
Hebreërs 7 beskryf vir ons eienskappe wat Jesus uniek maak.
Gedagte vir die dag
As jy in die hemel aankom, sou Jesus waarskynlik die volgende sê:
“Vergeet maar daarvan. Ek dink ons het die boek met goeie dade hier rond . . . Om die waarheid te sê, niemand hier by ons steur hulle daaraan nie. Ek sal die ander boek, die boek van die lewe oopmaak, die boek waarin die name van al my gesinslede opgeskrywe staan.
“En my Pa sal glimlag en sê: ‘Hallo, ek is so bly om jou hier by ons te sien.’
“Die heelal sal giggel en sê: ‘Hierdie persoon is wonderlik!’
“Maar Ek, Jesus, sal vir jou oogknip en sê: ‘Kom hier na My toe en sit hier langs My. Laat Ek en jy lekker lank saam lag voordat jou verwelkomingspartytjie so luidrugtig word dat ons nie eers kan hoor hoeveel pret en plesier ons het nie.’”
Jou kaartjie hemel toe is klaar betaal! Lank terug, om presies te wees – 33 n.C. op Golgota, deur Jesus aan die kruis. Niks wat ons kan doen kan maak dat God ons méér liefhet nie. Niks wat ons kan doen sal maak dat God ons minder liefhet nie. Hy het ons lief!
Doen saam
Leer om dankbaar te wees oor alles wat God elke dag vir jou gee. Beplan ’n gesinsaand met jul gunsteling-pizzas. Laat elke gesinslid rondom die tafel die dinge opnoem waarvoor hy of sy dankbaar is. Eet daarna saam en speel ’n lekker bordspeletjie.
Gebed
Vader, U het vir Jesus, ons Vriend en Verlosser, die Naam bo elke naam gegee. Dankie dat ons U ken. Ons loof U vir wat U reeds in ons lewe gedoen het. Amen.
Leef jou geloof
Bid hierdie week vir die mense wat julle weet nie meer in Jesus glo nie, of wat nog nooit in Jesus geglo het nie. Maak ook kontak met so ’n persoon en betoon liefde teenoor hom of haar.
Net vir ouers
Fokus op die vreugde wat jou kinders bring! Beskou hulle as geskenke van God, want kinders is draers van sy lig!
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan is ideaal vir die hele gesin en sal lesers herinner aan die belangrikheid om die Here in alles wat hulle doen, in te sluit. Elke dagstuk sluit in die geleentheid om oor die dag te kan praat, ’n gedagte vir die dag, ’n gebed, ’n “doen saam” projek en ’n Bybelvers. Die inhoud is gebaseer op Ewald en Beatrix van Rensburg se “Nader aan God, nader aan mekaar”.
More