Nader Aan God, Nader Aan Mekaar Deur Ewald & Beatrix van RensburgSample
Die genade in mislukking
Beste en slegste
Gee elkeen ’n kans om oor die beste en slegste oomblik van elkeen se dag te gesels.
Waar het jy Jesus vandag ontmoet?
Gesels met mekaar oor waar elkeen vandag vir Jesus ontmoet het, of oor iets of iemand wat jou aan Hom laat dink het.
• Wat leer jy van Jesus uit die Bybelvers?
• Wat leer jy van jouself?
• Wat vra die gedeelte van jou om te doen?
Gedagte vir die dag
In Markus 6:11 maak Jesus dit vir sy twaalf dissipels duidelik dat hulle nie teen mislukking verseker is omdat hulle in sy Naam uitgaan nie. Om die waarheid te sê, Jesus het geweet dat mislukking ’n groot moontlikheid is.
Hy wys vir hulle hoe om voort te gaan te midde van mislukking. Mislukking is iets wat met jou gebeur, dit is nie wie jy is, jou identiteit, nie. Mislukking kan lei tot beter dinge. Die rede? God se genade is daar! Hy skryf ons nie af nie, maar tel ons liewer op! Die storie van Markus is ’n bewys daarvan: In 47 n.C. is Paulus en Barnabas saam met Markus op ’n sendingreis. In Handelinge 13:13 los Markus hulle en keer met ’n boot terug Jerusalem toe. Hoekom? Hy het bang geword en huis toe gegaan. ’n Mislukking! Paulus het so sterk daaroor gevoel, hy wou hom nie weer toelaat in die span nie (sien Handelinge 15:38). Maar alles eindig nie daar nie. Hierdie “mislukking” het later die skrywer geword van die Evangelie van Markus.
Skud die stof van jou voete af en loop aan. Want God sien die mislukkings, die rommel, as boustene van ’n nuwe lewe vir my en vir jou.
Doen saam
Probeer om saam na die fliek October Sky te kyk. Dit vertel die ware verhaal van ’n NASA-ingenieur, Homer Hickam. Dis ’n uitstekende fliek oor iemand wat geglo het hy moet die stof van mislukking van sy voete afskud en aanstap.
Gebed
Goeie Herder, Jesus, bewaar en versterk my nou en vir ewig. Ek loof U daarvoor. Amen.
Leef jou geloof
Moedig iemand aan wat deur ’n mislukking of teleurstelling gaan deur so ’n persoon te verras met iets moois.
Net vir ouers
Kyk altyd met sagte oë na jou kinders se mislukkings en help hulle om daaruit op te staan en aan te gaan.
Scripture
About this Plan
Hierdie leesplan is ideaal vir die hele gesin en sal lesers herinner aan die belangrikheid om die Here in alles wat hulle doen, in te sluit. Elke dagstuk sluit in die geleentheid om oor die dag te kan praat, ’n gedagte vir die dag, ’n gebed, ’n “doen saam” projek en ’n Bybelvers. Die inhoud is gebaseer op Ewald en Beatrix van Rensburg se “Nader aan God, nader aan mekaar”.
More