Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld

Christelike Lewe: Gebed en Gehoorsaamheid
Lees: Filippense 4:6; Johannes 14:15-17; Jakobus 1:22
SOAP: Filippense 4:6; Johannes 14:15; Jakobus 1:22
“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (Filippense 4:6).
“As julle My liefhet, sal julle My opdragte uitvoer” (Johannes 14:15).
“Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself” (Jakobus 1:22).
Oordenking
Gebed en gehoorsaamheid is diep verweef en noodsaaklik vir ons verhouding met God. Filippense 4:6 beklemtoon die belangrikheid van gebed in elke faset van ons lewens en herinner ons daaraan om ons bekommernisse en behoeftes met 'n dankbare hart voor God te bring.
Gebed is ons direkte lyn na God. Dit is hoe ons ons dankbaarheid uitspreek, leiding soek, ons sondes bely, Hom vra vir alles wat ons nodig het en vir ander intree. Deur gebed ontwikkel ons 'n dieper verhouding met God, wat ons harte in pas bring met sy wil.
God hoor al ons gebede en is genadig wanneer Hy gebede beantwoord. Wanneer God gebede verhoor, is dit gewoonlik een van drie antwoorde: ja, nee, of nog nie. God is nie verplig om te antwoord soos ons wil nie, maar sy antwoorde is altyd goed.
Net so belangrik is ons reaksie op God se opdragte. Gehoorsaamheid aan die Woord van God is 'n natuurlike uitvloeisel van ons liefde vir Hom. Dit gaan nie net daaroor om reëls te volg nie, maar om op 'n manier te leef wat God eer en Christus weerspieël.
Gehoorsaamheid demonstreer ons geloof en vertroue in God. Dit wys dat ons glo sy weë en gedagtes is hoër as ons s'n. Soos ons sy opdragte gehoorsaam, ervaar ons die seëninge en groei wat daaruit voortspruit om volgens sy wil te lewe.
Gebed en gehoorsaamheid werk hand aan hand. Deur gebed soek ons God se leiding en krag om sy opdragte te gehoorsaam. Namate ons gehoorsaam word, word ons gebede meer in pas met sy wil en groei ons in ons geloof. Saam vorm dit ons na die beeld van Christus, wat ons help om lewens te lei wat God verheerlik.
Gebed
Dierbare Jesus, dankie vir die gawe van gebed en die leiding van u Woord. Help my om met 'n dankbare hart na U toe te kom en my behoeftes en bekommernisse in elke situasie voor U te stel. Versterk my toewyding om u bevele te gehoorsaam uit liefde vir U. Mag my lewe U weerspieël en elke dag in geloof en vertroue groei. In u Naam. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/