Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld

Christelike Lewe: Die Grootste Gebod
Lees: Matteus 22:34-40; Markus 12:28-34
SOAP: Matteus 22:37-39; Markus 12:30-31
''Jesus antwoord hom: 'Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.' Dit is die grootste en eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: 'Jy moet jou naaste liefhê soos jouself'" (Matteus 22:37-39).
'''Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.' Die tweede is: 'Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.' Geen ander gebod is groter as dié twee nie" (Markus 12:30-31).
Oordenking
In die Nuwe Testament definieer Jesus duidelik wat werklik in ons lewens saak maak: om God lief te hê en ander lief te hê.
Ons lewens moet onmiskenbaar gekenmerk word deur liefde vir ander. Hierdie liefde, wanneer dit oorvloei in ons dade, gedagtes en begeertes, het die krag om ons te herskep. Wanneer ons God met ons hele hart, siel, verstand en krag liefhet, vloei ons gehoorsaamheid en ons begeerte om 'n lewe tot sy eer te lei, spontaan uit daardie liefde voort. Hierdie liefde vir God is nie 'n tydelike emosie nie, maar 'n diepgaande, blywende toewyding.
Terwyl ons daarna streef om ander lief te hê op die manier waartoe God ons roep, moet ons onthou dat ons optrede nie deur ons eie krag gedryf word nie, maar deur die liefde wat God genadiglik in ons harte geplaas het. Dit is nie iets wat ons op ons eie kan doen nie, maar dit bemagtig ons om ander lief te hê op 'n manier wat eg en selfopofferend is. Ons liefde vir ander moet dus God se liefde vir ons weerspieël en deur geduld, vriendelikheid en onselfsugtigheid gekenmerk wees (1 Johannes 4:19).
Die liefde waartoe Jesus ons roep, vorm hoe ons met ons gesinne, vriende en selfs vreemdelinge omgaan. Dit beïnvloed ons besluite, ons prioriteite en ons verhoudings. Deur God heelhartig lief te hê en ons naaste soos onsself lief te hê, vervul ons die kern van wat dit beteken om Jesus te volg.
Gebed
Dierbare Jesus, dankie dat U vir my gedemonstreer het hoe om die grootste gebod uit te leef. Help my om U lief te hê met my hele hart, siel, verstand en krag en om my naaste lief te hê soos myself. Mag my lewe gekenmerk wees deur liefde en eer aan u Naam te bring. In u Naam. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/