HelingstydVoorbeeld

Helingstyd

DAG 2 VAN 5

Dag 2: Uitgerafel

2 Korintiërs 12: 8-9: “Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: ‘My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking. Daarom sal ek liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk’.” (NLV)

Soms open die lewe vreemde deure en gebeure. Dinge wat ontstaan sonder ons toestemming of verwagting. Geen waarskuwing oor watter gemoedstoestand gevolg moet word nie, geen stabiele basis nie. Geen idee hoe om jou gesonde verstand te behou, indien dit moontlik sou wees nie.

Ek het al 'n paar ervarings in my eie lewe opgesom. Dinge waarmee ek moes deel en steeds probeer om te hanteer, of soort van ‘n begrip te verkry en opsetlik heling vas te gryp.

Dalk sal jy wat hier lees verstaan:

  1. Verdowing. Geskep deur skok en die ongesteriliseerde waarneming van die realiteit in die oomblikke waarmee jy moet deel.
  2. Vrae. Dit ontstaan as 'n reaksie op verdowing, 'n ondersoek van die gedagtes wat desperaat moeite doen om verwronge lêers te sorteer.
  3. Emosies. 'n Frekwensie diep binne-in jou, wat die vibrasie van vrae probeer absorbeer.
  4. Gebrokenheid. Grys stukkies geestelike vlees, wanhopig deurmekaar gebondel met geen emosionele reaksie nie.
  5. Geloof. Bevestiging dat onbeantwoorde realiteite bestaan. Die verwagting van 'n uitkoms wat jou eie hand nie kan orkestreer nie. Om dan in stilte die essensie van 'n groter Hand te aanvaar wat áán jou en mét jou begin werk; wat die geskenk van die lewe wat jy reeds het, terug kan blaas.

Ekself hou dringend vas en probeer om pyn, die hantering daarvan en die voortgaan van die lewe te ontrafel. Ek en jy moet asemhaal en voortgaan om 'n groter Ek Is te blý kies.

Paulus het openlik vertel van die doring in sy vlees. Dalk het hy ook met tye soos ons gevoel? Hy was tog mens. Máár, hy het voortgebeur met een doel voor oë — om God te behaag en te vertrou!

Gebed:

Hemelse Vader, wat kan ek sê wat U nie reeds weet nie? U sien regdeur my en hoor my hart se versugtinge. Hier is ek …

Wees stil en weet … soms hoef jy nie veel te praat of te doen nie. Haal asem, God gaan nêrens nie, Hy bly alomteenwoordig.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Helingstyd

Dikwels wanneer vooruitsig of hoop kwyn, raak ons klein in gees en postuur. Ons loop kop onderstebo en bou konneksie met die grond. Soms van balans af en wollerig. Ons hart, siel en totale menswees voel stukkend as gevolg van hartseer, trauma, ongewenste gebeure. Maar daar is heling te vind mits jy besluit om die reis saam met God aan te pak.

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com