Romantiese Afsprake In Die Moderne EraVoorbeeld
Hoekom Op Afsprake Gaan?
Om op romantiese afsprake te gaan, is moeilik, omdat dit riskant is. Soms kan dit voel of jy in 'n mynveld op een been rondspring. Jy mag selfs wonder of dit die moeite werd is om die risiko te loop om onvermydelike pyn te ervaar. Die antwoord is dat daar diep in ons wese 'n verlange is om aan 'n ander persoon verbind te wees. Ons wil liefhê en liefde ervaar. Die meeste mense op aarde wil trou. Ons is dus gewillig om die risiko en drama van romantiese afsprake te neem, sodat ons 'n langtermyn, intieme verhouding kan aanknoop.
Ek gaan nie in hierdie oordenking praat oor hoe om iemand op 'n afspraak te kry nie, want in werklikheid is dit nie so moeilik nie. As jou standaarde baie laag is, kan jy vanaand nog trou! Dis maklik om iemand vir 'n afspraak in die hande te kry. Om die regte persoon op die regte manier te kry, is egter nie so maklik nie. Die vraag is dus hoe kan jy dit regkry? Hoe kan jy op afsprake gaan waar jy baie goeie en min pynlike ervarings kan hê? Om daardie vraag te beantwoord, moet jy eers 'n tree teruggee en iets meer basies vra: Wat is die doel van afsprake?
Die Bybel praat nie oor romantiese afsprake nie, maar dit het baie te sê oor hoe 'n mens ander mense moet beoordeel. Ek veronderstel dat afsprake ons hedendaagse proses van beoordeling is. Om op 'n afspraak te gaan, sal jou help om te evalueer of jy die res van jou lewe met daardie spesifieke persoon wil deurbring. Die eerste belangrike vraag van evaluering is: watter eienskappe moet jy in die persoon soek.
As 'n enkellopende moet jy na die Here toe hardloop. Jy moet jou aan Hom toewy. Jy moet jou gawes, vaardighede en tyd gebruik om ander mense wat na sy beeld geskape is, te beïnvloed en te seën. Terwyl jy na God toe hardloop, is daar baie ander soorte mense wat ook in alle rigtings hardloop. Jy sal uiteindelik oplet dat daar ook ander mense is wat ook na Hom toe hardloop. Terwyl julle hardloop, sal jy met hulle begin gesels. Jy sal hulle begin dophou.
Jy moet op die uitkyk wees vir karakter en aangetrokkenheid. Jy wil iemand met karakter hê en wat God en die dinge van God met passie najaag. Dan moet jy ook op die uitkyk wees vir iemand tot wie jy aangetrokke voel. Jy soek iemand saam met wie jy graag kuier, gesels en 'n aanknopingspunt het. Jy soek 'n stabiele, godvresende karakter en prettige, gemaklike aangetrokkenheid.
Romantiese afsprake gaan nie daaroor om iemand te vind deur wie jy jou lewe en doel kan bereik nie. Dis 'n té groot las om op iemand te plaas. Dis nie hoe jy aanmekaar gesit is nie. Jy is nie 'n halwe mens wat 'n ander halwe mens soek om jou "volkome" te maak nie. Jy is volledig — nie onvolledig nie — en God het jou as enkellopende lief.
Die doel van romantiese afsprake is dus nie om voltooiing as individu te vind nie, maar om 'n persoon te vind met 'n goeie karakter en tot wie jy aangetrokke voel, sodat julle die toekoms kan ingaan wat God vir julle albei saam beplan het. Die doel is om saam te groei wanneer julle uitgaan, sodat julle mekaar kan bemoedig, uitdaag en vorm. Hierdie proses verg aanpassing, verandering en opoffering. Dit sal nie altyd maklik of soos die romantiese voorstellings in 'n Hollywood rolprent wees nie. Jy kan egter seker wees dat die reis die moeite werd sal wees.
Dit is die doel van romantiese afsprake. Dit is die visie waarvoor jy in 'n huwelik mik. En dis 'n wonderlike reis!
Reageer
Hoe is jy al seergemaak in romantiese afsprake? Wat het jy uit daardie ervarings geleer?
Om watter rede wil jy op romantiese afsprake gaan? Is jou motiewe suiwer? Hoekom of hoekom nie?
Wat kan jou help om 'n persoon as 'n potensiële lewensmaat te evalueer? Watter toekomsdrome het jy in gedagte terwyl jy romantiese afsprake oorweeg?
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Romantiese afsprake . . . wek hierdie frase angstigheid of opwinding in jou hart? Met al die tegnologiese maniere waarop ons deesdae met mekaar kan kontak maak, wil dit voorkom of afsprake meer ingewikkeld, verwarrend en frustrerend as tevore is. Ben Stuart sal jou met hierdie 7-dag leesplan help om te sien dat God 'n doel met hierdie seisoene in jou lewe het: enkellopend, afsprake, verloof, getroud. Hy gee jou riglyne om jou te help bepaal met wie jy moet uitgaan en hoe om afsprake aan te pak. Ben is die pastoor van Passion City Church, Washington, DC en voorheen uitvoerende hoof van Breakaway Ministries, 'n weeklikse Bybelstudie wat deur duisende universiteit studente op die kampus van Texas A&M bygewoon word.
More