Prioriteit nommer éénVoorbeeld
Bid … selfs wanneer jy sukkel om te glo!
Soms kan ons nogal oor God kla. Ons sê dalk: “Dit voel of Hy my nie hóór nie!” of “Ek wonder hoe ’n God van liefde sulke dinge kan toelaat?” of “Waar was ons Vader toe dít gebeur het?” In sulke tye van verwyt en twyfel, is ons eie geloof ook maar ietwat wankelrig. Dis dan wanneer ons die volgende moet onthou:
- Ons God was, ís en sal altyd die Vader van die heelal wees. Ons kan maar die manier waarop Hy dinge doen, volkome vertrou.
- Ons hoef ons Here se weë nie altyd te verstaan nie. Ons menslike verstand is eenvoudig nie gemaak om sy grootheid en soewereiniteit te begryp nie.
- Geloof gaan nie net oor ons, ons belange en ons behoeftes nie. Geloof gaan daaroor dat ons die lewende en almagtige God eer, vertrou en volg, selfs wanneer ons nie weet waarheen Hy op pad is nie.
Wanneer dit vir jou voel of God ver is, kan jy maar onthou — Hy IS by jou. As jy sukkel om met Hom kontak te maak en werklik te glo, vra dan dat die Gees van God namens jou bid. Jy sal vind hoe Hy weer – op sý manier – nuwe genade en geloof in jou hart plant.
Dierbare Here, dankie dat U altyd daar is om my vas te hou, te beskerm en te help glo. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ons besige wêreld en die illusie dat ons sonder gebed kan klaarkom, is van die grootste redes waarom ons sukkel om gereeld en aktief te bid. Gebed is egter nooit tydmors nie! Milanie Vosloo wil jou aanmoedig om gebed prioriteit nommer één in jou lewe te maak en jou lewenswyse so aan te pas dat jy eenvoudig tyd máák om voor sy troon te verskyn, want JY het dit nodig!
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/