Prioriteit nommer éénVoorbeeld
Is jy soms te skaam om te bid?
Ons het almal ’n mate van trots. Iets in ons wat maak dat ons in beheer wil wees. Iets wat wil hê dat ander – en ook God – die beste van ons moet glo. Wanneer ons dan weet dat ons teen God se wil opgetree het, van Hom af weggedwaal het of dalk ’n tyd lank nie met Hom gepraat het nie, is ons van nature skaam om weer na Hom toe terug te keer. Dis mos nie lekker om soos ’n stout kind voor jou hemelse Vader te verskyn nie!
In sulke skaam-wees-tye moet ons onthou dat ons Here nie die gewone soort pa is wat ons sal verwyt en oor die vingers tik nie. Ons aanbid ’n God met ’n hart vol genade: ’n hart wat onder alle omstandighede sy wegloopkinders sal terugneem! Hy staan en wag as’t ware daagliks op die stoep van die hemel op ons terugkoms. Wanneer ons dan ons hart tot Hom rig, sal ons ervaar hoe Hy in sy groot liefde en met vergifnis na ons toe uitreik en vir ons sê: “Ek het na jou verlang, my kind! Ek het jou lief – ook wanneer jy skaam-skaam van My af wegloop.”
Moet nooit huiwer om voor die lewende God te kniel nie. Lank voor jy dit doen, het Hy jou al vergewe. Hoekom doen jy dit nie sommer nóú nie – Hy wag vir jou!
Vader, dankie dat u liefde vir my soveel groter as u oordeel is. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ons besige wêreld en die illusie dat ons sonder gebed kan klaarkom, is van die grootste redes waarom ons sukkel om gereeld en aktief te bid. Gebed is egter nooit tydmors nie! Milanie Vosloo wil jou aanmoedig om gebed prioriteit nommer één in jou lewe te maak en jou lewenswyse so aan te pas dat jy eenvoudig tyd máák om voor sy troon te verskyn, want JY het dit nodig!
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/