Die Laaste PylVoorbeeld
TREE OP ASOF JOU LEWE DAARVAN AFHANG
Toe die vroue by die graf na Jesus se liggaam gesoek het, het die engel vir hulle gevra: "Waarom soek julle die Lewende by die dooies?" (Lukas 24:5). Oor die algemeen is ons nogal verward oor die lewe en dood, en selfs nog meer oor die onsekere toestand wat ten beste as bestaan beskryf kan word.
Ek en my vrou, Kim, was onlangs in Beirut. Ons was besig met voorbereidings om na Bekaá te gaan, wat 'n klein entjie van die grens geleë is waar ISIS in 'n oorlog teen die Libanese volk gewikkel was. Net toe ons in ons voertuie wou klim, moes ons eers 'n vorm invul. Die vorm se opskrif was "Bewys van Lewe". Vir die eerste keer in my lewe moes ek bewys lewer dat ek wel lewe. Dit het my laat nadink en ek het myself afgevra: "Wat is inderdaad die bewys dat ek lewe?" Is dit die motor wat ek bestuur? My van? My belastingnommer? Kan dit wees dat hierdie beskrywings slegs 'n bewys is dat ek bestaan, maar nie dat ek lewe nie?
Die meeste mense kies nie tussen lewe en dood nie; ons kies tussen bestaan en dood. Ons kies eintlik nooit om te lewe nie. Ons is verlam van vrees vir die dood en al die verwante dinge soos om te misluk, teleurstelling en hartseer, en daardie vrees lei daartoe dat ons lewe vir bestaan verruil.
Hiervan is ek seker: wat God ook al vir jou wil gee, watter belofte God graag in jou lewe wil vervul, watter rykdom dalk op jou wag, sal jy eers kry wanneer jy die lewe bó bestaan kies.
Ongeag jou stand of sosio-ekonomiese agtergrond, moet jy ophou wag vir iemand anders om jou lewe die moeite werd te maak. Jy moet optree. Jy moet optree asof jou lewe daarvan afhang. Watter keuses jy ook al in die lewe neem, ongeag hoeveel jy bereik, een ding is seker — ons almal se lewens kom tot 'n einde. Die vraag bly dus: gaan jy kies om te lewe of gaan jy daar bly lê tot die dood jou kom haal?
Wat is die bewyse dat jy lewe? Watter dinge in jou lewe maak jou opgewonde? Op watter maniere het jy tevrede geword om bloot te bestaan eerder as om te lewe?
Aangaande hierdie leesplan
Roep jou siel dit luid uit dat jy vir meer gebore is as die lewe wat jy nou lei? Het jy jouself te kort gedoen, nie voldoende geleef nie en God se doel vir jou onderskat? In hierdie 5-dag leesplan sal leier-pastoor Erwin McManus, dapper denker van Mosaic, die weg aanwys om 'n lewe van passie, avontuur en moed te leef. Die leesplan is op sy boek, "The Last Arrow" gebaseer. Ontdek hoe om jou drome heelhartig na te strewe, om hierdie lewe voluit te leef en met die spreekwoordelike "leë pylkoker" te sterf.
More