Tydige DankbaarheidVoorbeeld
Jou gawes
“Here, U het my tot in die fynste detail gemaak. In die baarmoeder het U my gevorm. Ek wil U prys omdat U my so volmaak geskep het. U doen wonderlike werk" (Ps 139:13-14 DB).
Elke mens op aarde het spesifieke gawes ontvang. Hierdie gawes is deur God ín jou geweef nog voordat jy gebore is. Dalk kan jy goed skilder, skryf, kosmaak of klavierspeel. Nie één mens op die aarde is dieselfde nie. Jy is uniek; daar is niemand anders soos jy nie. Selfs die hare op jou kop is getel!
Die norm in die wêreld is om jou gawes as vanselfsprekend te aanvaar. Ons besef nie hoe kosbaar elkeen se gawes is nie. Jou gawes is nie net vir jouself om uit te leef nie, maar ook om ander — jou vriende, familie, gesin en vreemdes — daarmee raak te leef. Jy laat ‘n afdruk op elke persoon met wie jy in aanraking kom. Wat ‘n voorreg om jou gawes te ontgin en toe te pas!
Moet nooit soos iemand anders probeer wees nie. Deel jou gawes en leef dit. Dit is geskenke van God om te gebruik. Wanneer jy 'n geskenk ontvang, sê jy gewoonlik "baie dankie". Geskenke wat deur God aan jou toegeken is, is ‘n enorme seën en voorreg. Hoeveel daarvan gebruik jy? Of laat jy toe dat die wêreld jou uniekheid versmoor? Dít gebeur heeltemal te veel.
Wanneer jou gawes daagliks suurstof kry, gebeur ‘n wonderlike ding: jy lééf! Ek het baie keer my gawes as minderwaardig geag, omdat ek geglo het dat iemand anders se gawes baie beter vertoon. Dit is eintlik ‘n klap in God se gesig om so daaroor te dink. Hy het vir my en jou bemagtig om Hom te verheerlik deur ons gawes te gebruik.
Gaan delf in jóú gawes en wees tot seën vir ander!
Gebed: Vader, dankie vir die gawes wat U my gegee het. Help my deur u Gees om elke gawe wat onder die stof lê weer tot lewe te bring. Ek wil U dien deur die saad wat U in my geplant het te gebruik.
Wanneer jy weer gaan sit om 'n koppie koffie te drink, maak 'n lys van jou gawes op papier. Jy sal gou sien hoe verskeie gedagtes skielik by jou opkom. Kyk mooi daarna en sê: "Dankie, Jesus, dat U my bederf om myself te kan uitleef. Open die deure waar ek elke gawe kan toepas."
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Ons almal word op ‘n daaglikse basis gekonfronteer met negatiewe gesprekke, ontstellende nuusberigte, persoonlike uitdagings en vele ander situasies. Realiteite kan jou opslurp in ‘n maalkolk van negatiwiteit en depressie. Opgee is nie ‘n opsie nie. Maar jou daaglikse 24-uur-pakkie bevat beslis iets om voor dankbaar te wees!
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com/