Wat Jesus Gesê Het Oor Geestelike OorlogvoeringVoorbeeld
Moenie die duiwel 'n vastrapplek gee nie
Efesiërs 4:27: "Moenie die duiwel 'n vastrapplek gee nie."
1 Petrus 5:8: "Wees nugter van gees, wees waaksaam. Julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek iemand om te verslind."
Mense gee die duiwel dikwels ‘n vastrapplek in hulle lewens. 'n Vastrapplek is 'n geestelike misleiding of wanneer jy opsetlik sonde doen, of iets doen wat duidelik nie die wil van God is nie. Dit is 'n plek waar die duiwel 'n geestelike opening in jou lewe vind en jou dan verhinder om vrede te beleef, in oorwinning oor sonde en in ‘n diep persoonlike verhouding met Jesus te lewe. Enige vorm van ongehoorsaamheid maak geestelike deure oop waardeur hy ons kan en sal aanval. As jy nie hierdie deure sluit nie, sal die Satan dit gebruik om jou skade aan te doen.
Hoe hanteer ons sulke vastrapplekke?
1. 'n Gebrek aan kennis van die Woord van God en die waarheid kan tot misleiding lei. Lees die Bybel en vra die Heilige Gees om jou te help om dit te verstaan. Versterk jouself met die waarheid – die waarheid sal jy in die Skrif vind. Waarheid breek die mag van die Satan se misleidings.
2. Onvergewensgesindheid in enige vorm, is een van die Satan se doeltreffendste wapens. Wanneer jy byvoorbeeld nie 'n spesifieke persoon vergewe wat jou seergemaak of beledig het nie, gee dit die duiwel 'n vastrapplek in jou lewe. Hy sal dit gebruik om jou kwaad, bitter en vol haat maak. Dit sal jou tot by 'n plek bring waar jy 'n begeerte sal hê om wraak te neem. Dit bring verdeeldheid en haat tussen mense. Dit sal jou vrede wegneem en jy sal nie 'n lewe van oorwinning oor sonde kan leef nie. Jy sal nie innerlike vrede kan ervaar nie. Wat ook al nie in lyn is met die karakter van Jesus nie, gee die Satan 'n vastrapplek in jou lewe.
3. Onbelyde sonde in jou lewe sal die Satan 'n vastrapplek gee. Om sonde weg te steek of te weier om sekere dinge prys te gee wat die Heilige Gees aan jou uitwys, gee die duiwel 'n vastrapplek. God beskerm nie ongehoorsaamheid nie.
4. Vra die Heilige Gees, die Gees van waarheid, om vir jou die dinge in jou lewe uit te wys wat die Satan 'n vastrapplek gee. Bely jou sonde en betrokkenheid by alle praktyke wat ongetwyfeld nie in lyn is met die Woord van God nie — dinge wat nie vryheid bring nie, jou weglei van Jesus af en 'n dieper verhouding met God die Vader verhinder. As jy naby God jou Vader lewe, sal jy dadelik weet wanneer iets nie van God af kom nie. Vertrou die Heilige Gees om jou te lei. Die eenvoudige reël is: As jy twyfel, moenie.
Aangaande hierdie leesplan
Daar is baie vrae oor die geestelike stryd teen die Bose. Mense wil weet hoe om die Bose teen te staan en hoe om te weet wanneer dit hy is wat ons aanval. Hierdie leesplan fokus daarop om eenvoudige riglyne te gee oor hoe om te onderskei wanneer die bose ons aanval en wat om te doen.
More
Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com/