Ontdek Die Grootste GewerVoorbeeld
Dag 28: God voorsien daagliks in ons behoeftes
"God voorsien vir hulle wat vertrou" — George Herbert.
Ons dien ʼn persoonlike God wat bewus is van elke haar op ons hoof en elke behoefte wat ons daagliks mag ervaar. Nadat Moses Israel uitgelei het na die woestyn volgens Eksodus 16, lees ons dat hulle begin kla het oor ʼn gebrek aan voedsel. In hulle honger het God op ʼn wonderbaarlike wyse ingegryp.
Hy het manna van die hemel laat reën (ʼn spesiale soort broodvlokkies) met die instruksie dat hulle net genoeg moes neem vir daardie dag. God het sorg gedra vir elke behoefte van sy volk, daagliks, gedurende veertig jaar. Uit hierdie magsdaad leer ons dat God teenwoordig is in ons daaglikse lewens en sorg dra vir ons behoeftes van dag tot dag.
In Matteus 6:11 leer Jesus ons bid: "Gee ons vandag ons daaglikse brood." Wanneer Jesus hier van "ons daaglikse brood" praat, verwys Hy na ons daaglikse behoeftes. Hiermee wys Hy ons daarop dat ons die Vader in die hemel kan vertrou vir alle daaglikse behoeftes.
In Bybelse tye was brood ʼn stapelvoedsel van die lewe en elke dag vars gebak. God gee daaglikse brood aan alle mense, hetsy goed of sleg. Wanneer ons God as ons Meestervoorsiener erken, erken ons Hom as Jehovah-Jireh.
Ons het vier basiese behoeftes waarvoor ons God moet vertrou om te voorsien: fisieke behoeftes (skuiling, kos en klere), emosionele behoeftes (liefde, stabiliteit, selfvertroue, selfbeeld ens.), sosiale behoeftes (verhouding met ander mense) en dan ons geestelike behoeftes.
Ons behoeftes kan uiteindelik net deur Jesus Christus bevredig word. Die woord “gee” wat Jesus gebruik dui waarskynlik op die feit dat God die bron is van ons daaglikse behoeftes. Dit is Hy wat gee! Wanneer ons bid "gee" vra ons vir God se hulp; plaas ons, ons vertroue in Hom dat Hy in ons behoeftes kan en sal voorsien.
John Hamby het gesê: “God het ons met behoeftes gemaak sodat ons na Hom sal moet kyk om dit te voorsien." Die Here nooi ons uit om na Hom wat kan gee, toe te draai. Jakobus, een van Jesus se dissipels en ook halfbroer, onderstreep die feit duidelik deurdat hy sê: “En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie” (Jakobus 4:2c NLV).
Al wat jy moet doen is om in gebed na God toe te kom en te vra. Jesus sê ook in Matteus 7:7 (AFR53): “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word." As gelowiges kan ons elke dag lewe met die versekering dat ons hemelse Vader in sy liefde vir ons sal voorsien.
Net soos die manna in die woestyn, mag ons ons harte oopmaak vir God se daaglikse gawes van genade, liefde en voorsiening. Laat hierdie waarheid jou vervul met dankbaarheid en vertroue en mag jy elke dag leef in die bewustheid van God se teenwoordigheid en sorg. Mag jy sê: "Die HERE is my herder; niks sal my ontbreek nie" (Psalm 23:1 AFR53).
Lees die volgende Skrifgedeelte en dink aan jou behoeftes vandag en vra daarvoor in die Naam van Jesus.
Aangaande hierdie leesplan
Vrygewigheid is duidelik ʼn karaktereienskap van God wat regdeur die Bybel beskryf word. Geskiedenis getuig van die vrygewige God wat nooit moeg raak om te gee nie ... Daar is so baie om te verken wat Hy spesifiek aan ons almal gee en hoe ons dit in geloof kan ontvang. In hierdie Paasfees-leesplan word daar gefokus op die ongeëwenaarde goedheid en grootheid van God as dié grootste gewer ooit.
More
Ons wil graag Collage Gemeenskapskerk bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.learnandlead.co.za/