Rut: 'n Verhaal van God se Verlossende LiefdeVoorbeeld

Ruth: A Story of God’s Redeeming Love

DAG 4 VAN 7

Ons verhouding met ander is 'n weerspieëling van ons verhouding met Christus. Boas het Christus se liefderyke goedhartigheid getoon in sy interaksies met die werkers in sy veld, hoe hy Rut behandel het en sy voorsiening vir Naomi. Om te onthou dat onkreukbaarheid en godsaligheid skaars was in Israel gedurende daardie dae, maak Boas se karakter nog meer verstommend. Boas se eerste woorde in die boek Rut was 'n seën in die naam van Yahweh. Sy gedagtes was so gesentreer op God dat sy vernaamste begeerte vir ander was dat hulle die seëninge van die Here moes ervaar. Hierin is Boas 'n vooruitskouing na Christus.

Boas kon met verwaandheid met sy werkers gepraat het. Hy het hulle egter as gelykes behandel; as broers. Die reaksie van sy stropers was net so positief en het gedien as 'n seën vir Boas. Die les vir ons is dit: om seëninge uit te ruil met diegene om ons is godvrugtig.

Rut het na Boas se lande gekom om are te versamel. (Om die graan wat tydens die oes agtergebly het, op te tel, was Israel se manier om vir die armes te voorsien.) Boas het sy voorman oor Rut uitgevra. In 'n kort gesprek het die voorman twee keer genoem dat sy van Moab is. Hy het dit miskien nie besef nie, maar hy het haar status beklemtoon as 'n heidense immigrant van 'n bekende vyand van Israel. Boas, aan die ander kant, het sy bewondering vir haar uitgespreek en Rut sy dogter genoem. Hy het aan haar die sorg gebied wat gewoonlik net aan 'n familielid betoon is, insluitend water, wat gewoonlik vir die manlike werkers bedoel was. Hy het haar ook genooi om die middag maaltyd saam met hom te eet. Hy het vir haar genoeg graan gegee om na Naomi toe te neem om vir hulle te voorsien; gelykstaande aan twee weke se loon! Hy het haar genooi om vir die res van die oes seisoen net in sy lande op te tel. Hy het sy stropers opdrag gegee om ekstra graan vir haar te los en hulle aangesê om haar nie te belemmer of aan te raak nie. Hy het verby die stigma van haar verlede gekyk en haar gesien as kosbaar en belangrik, waardig van sy respek en beskerming.

Die manier waarop Boas dié in sy veld behandel het, was vrygewig en met respek. Hy was opreg besorg oor hulle, veral Rut, God se Moabitiese dogter. Waarom het Boas so 'n belangstelling in Rut getoon? Soos die res van die dorp het hy gehoor hoe sy haar skoonma, Naomi, behandel het. As gevolg hiervan het Boas dieselfde liefderyke goedhartigheid aan Rut betoon. Boas was 'n eerbare man wat deugsame gedrag in ander herken het. Hy was 'n ware voorbeeld!

Boas se interaksies met mense wys vooruit na Christus se interaksies met mense. Soos Boas sy werknemers geseën het, het Christus diegene om Hom geseën gedurende sy tyd op aarde – Hy het hulle aanvaar, genees en bose geeste uitgedryf. Soos Boas sy arbeiders gevoed en saam met hulle geëet het, het Christus ook sy volgelinge gevoed en saam met hulle geëet. Soos Boas ander as broers en susters behandel het, het Christus dieselfde vir ons gedoen. Soos Boas persoonlik belang gestel het in en verantwoordelikheid vir ander aanvaar het, het Christus persoonlik belang gestel in en verantwoordelik geword vir diegene wat Hy geroep het.

Een van die grootste aspekte van die aanbidding van God is dat Hy 'n aktiewe rol in ons lewens inneem. God het nie die wêreld geskep en toe 'n passiewe sitplek in die agterste ry ingeneem nie. God se persoonlike, intieme deel-wees van ons wêreld beteken dat Hy wil hê ons moet die vermoë hê om Hom te ken, te beleef en te begryp. Omdat God die ongelooflike gaping tussen Homself, die almagtige God van die heelal, en onsself verstaan het, het Hy sy Seun gestuur in die vorm van 'n man, Jesus Christus, sodat ons Hom kan ken en persoonlik met Hom kan omgaan. Dit is die menswording van Christus, waardeur God mens geword, saam met sy skepping gewoon en intiem daarmee saamgeleef het.

Die liefderyke goedhartigheid wat deur Boas voorafgeskadu is, het tot vervulling gekom deur Christus se dood aan die kruis. Deur sy onbaatsugtige opoffering het Jesus ons geseën sodat ons die ewigheid saam met Hom kan deurbring. Daar kan geen groter seën as dít wees nie.

Boas het sy geloof uitgeleef deur Christus se liefde aan diegene om hom te wys, selfs diegene wat deur sy kultuur eenkant toe gestoot is. Sy behandeling van sy werkers, Rut en Naomi, was inderdaad teen die norme van sy kultuur en het vooruit gewys na die wêreldveranderende liefde wat Christus aan ons sou bring. Hoe wys jy God se liefde aan diegene om jou?

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Ruth: A Story of God’s Redeeming Love

Die boek Rut is miskien een van mees die indrukwekkende kortverhale van alle tye. Die boek Rut is 'n verslag van God se verlossende liefde. Die boek Rut is 'n fantastiese verhaal van hoe God die lewens van gewone mense gebruik om sy oppermagtige wil te bewerkstellig. Met pragtige simbole van Christus se liefde en opoffering vir sy mense, word aan ons gewys hoe ver God gaan om sy kinders te verlos.

More

Ons wil graag vir Armchair Theology Publishing bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.timothymulder.com/