Here, Ek Wil Hoor!Voorbeeld
DAG 5 Luister sodat jy nie afdwaal nie
"Om hierdie rede moet ons soveel kragtiger vasgryp aan wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdrywe nie" (Hebreërs 2:1).
Ons hoef maar net weer die geskiedenis van die Israeliete te lees om te sien hoe maklik dit vir die mens is om van God af te dwaal. Sodra jou aardse voorsiening opraak, begin ‘n mens soms om God daarvoor te blameer. Raak jy te besig met jou werk, verhoudinge, sport of ontspanning, dan kom jy op ‘n dag agter jy is te moeg om Bybel te lees of te bid. Jy het nie meer tyd vir kerk toe gaan of om Bybelstudiegroepe by te woon nie. Jy troos jouself met die gedagte dat jy moet oorleef en werk dan net nog langer ure.
En voor jy jou mooi kom kry, het jy van God vergeet en begin jy saam met ander skinder, lelik praat en video's kyk wat jou gedagtes besoedel. Drank of dwelmmiddels help jou al hoe meer om van jou probleme te vergeet. As jy nie naby God leef nie, verafgod jy so maklik ander mense of dinge.
Moenie dink ek en jy sal nooit afdwaal nie. Dis so maklik soos om net toe te laat dat vrees jou ongemaklik laat optree teenoor die bedelaar en jy hom nie van Jesus vertel nie. Dis so maklik soos om met vriende of kollegas wat negatief oor ons land en sy probleme praat, saam te gesels. Dis nie eens altyd erge goeters wat ons laat afdwaal nie.
Paulus sê daarom moet ek en jy kragtig vasgryp aan dit wat ons in God se Woord hoor! Dis ons riglyn, ons anker en ons lig op ‘n pad wat sommer skielik kan donker raak as gevolg van ons probleme, werk, pyn en hartseer. Hoe doen ons dit?
Moenie een dag laat verbygaan sonder om jou Bybel te lees nie. Bid sonder ophou. Praat gedurig met God. Luister na Hom. Het jy geweet dat daar vir elke krisis of probleem of vraag van jou ‘n antwoord in die Bybel is?
Psalm 85:9-10: "Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy volk, vir dié wat Hom getrou dien. Hulle moet net nie weer afdwaal nie. Waarlik, uitkoms is naby vir dié wat Hom dien; Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar."
Gebed: My Hemelvader, help my tog dat ek nie daardie dinge wat vir U belangrik is, vergeet nie. Ek wil vasgryp aan dit wat ek in u Woord hoor en ek wil na U luister. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Ons raak gou paniekerig wanneer ons verkeerde besluite geneem het. Soms voel dit mos net of jou lewe uitmekaar val. Ander kere is jy weer so besig dat jy nie meer weet hoe om God te vra vir hulp nie. Kom blaai hierdie week saam met my deur die Woord van God sodat ons mooi kan leer wat ons nodig het om sy stem te hoor.
More
Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za