Here, Ek Wil Hoor!Voorbeeld

Here, Ek Wil Hoor!

DAG 2 VAN 7

DAG 2 Hoor sy stem

"Hy sal voor hulle uitstap weiveld toe en hulle sal agternakom, want hulle ken sy stem" (Johannes 10:4 DB).

Daar word vertel dat sommige soldate gedurende die Eerste Wêreldoorlog probeer het om skape te steel deur hul van ‘n sekere trop af weg te rokkel. Toe die skaapwagter wakker word en sien sy skape is weg, het hy besef hy sal nooit sy skape kan terugkry deur geweld te gebruik nie. Al wat hy kon doen, was om sy skape op die spesiale manier waarop hy hulle altyd geroep het, te roep. Die soldate kon die skape nie keer toe hulle begin terughardloop na hul eienaar toe nie.

Hierdie verhaaltjie het my net weer laat besef hoe ‘n pragtige beeld Jesus hier gebruik het — die skaapwagter wat vooruit loop om sy skape in die kraal te kry. Hulle het bloot net sy stem gevolg omdat hulle hom geken het. Niemand anders kon by daardie hek in- en uitgaan nie. Hy het die hek bewaak met sy lewe!

So sal Jesus ons, wat sy skape is, beskerm. As jy Hom ken, ja, as jy Hom in jou hart ingenooi het en jy met Hom ‘n verhouding het, sal jy sy stem herken. Jy sal nie wil luister na die mense wat die Bybel in twyfel trek of in die kring van die spotters en dronkaards wil sit of saampraat met mense wat skinder en kwaad stook nie. Jesus se roepstem was vir Fillipus, Maria Magdalena, Simon Petrus en Paulus ‘n keerpunt in hul lewens.

As ons te besig raak met die dinge van die wêreld, kan ons nie sy stem hoor nie. Onthou: God is die Een wat sê: “Dit is my geliefde Seun, luister na Hom” (Markus 9:7). Lees jou Bybel sodat jy kan hoor wat God sê.

Jy hoef nie bang te wees vir mense wat jou probeer mislei en verlei nie — die skelms wat oor die muur wil spring om die skape te steel nie. Ons Herder hoor ook as óns roep. Hy ken ons mos elkeen op ons naam!

Gebed: Here Jesus, baie dankie dat U my herder is. Dankie dat U my vandag bewus maak van u stem. Amen.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Here, Ek Wil Hoor!

Ons raak gou paniekerig wanneer ons verkeerde besluite geneem het. Soms voel dit mos net of jou lewe uitmekaar val. Ander kere is jy weer so besig dat jy nie meer weet hoe om God te vra vir hulp nie. Kom blaai hierdie week saam met my deur die Woord van God sodat ons mooi kan leer wat ons nodig het om sy stem te hoor.

More

Ons wil graag Sonja Goldberg bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.sonjagoldberg.co.za