Die wegrapingVoorbeeld
Wat sal gebeur met dié wat agterbly?
Die groot verdrukking sal ’n tyd soos geen ander tyd wees wat die wêreld al ooit gesien het nie. Nie net weens die rampspoedige gebeure nie, maar ook as gevolg van die omvang van die geestelike misleiding en dwaling. Paulus het vir die gemeente in Tessalonika geskryf dat God aan dié wat die waarheid nie wil liefhê nie “’n kragtige dwaling” sal stuur “sodat hulle die leuen glo” (2 Tessalonisense 2:10-12 NLV). Die antichris sal in beheer wees van al die handelstransaksies wat op die aarde plaasvind. Hy sal almal wat sake wil doen, dwing om ’n merk op hulle regterhand of voorkop te laat maak. Hierdie merk sal nie net ’n pas wees wat jou toelaat om handel te dryf nie, maar dit sal ook dien as ’n teken van jou trou aan Satan en die antichris wat voorgee dat hy God is.
Die antichris sal dié wat nie die merk wil aanvaar nie onthoof, en dit sal die lot wees van almal wat van Jesus getuig, dié wat tydens die groot verdrukking tot geloof kom. Hulle is nie die kerk nie, maar mense wat tydens die verdrukking verlos sal word (Openbaring 7:14). Onmiddellik ná die wegraping sal daar ’n tyd van wanorde en verwarring op die aarde ontstaan, en die antichris sal dit gebruik om te belowe dat hy ’n oplossing daarvoor het. Daniël 11:21 sê hy sal “met omkopery” mag oor die wêreld verkry. Dit sal waarskynlik sluwe woorde en misleidende beloftes insluit.
Enigiemand wat die besluit om Jesus Christus as Verlosser te aanvaar tot ná die wegraping of tot met die verdrukking uitstel, behoort weer te dink. Motors sonder bestuurders en vliegtuie sonder vlieëniers is nie net tonele uit ’n fliek oor die wegraping nie; dit sal in ’n oogwink ’n werklikheid word. Die wegraping self sal ’n gebeurtenis wees wat baie van dié wat agterbly nie sal oorleef nie. Die vrees onder mense sal so groot wees en die bedrog so sterk dat ontelbare mense sal swig en die antichris se leuen sal begin glo. Moenie die kans waag en tot ná die wegraping uitstel om jou aan Christus oor te gee nie, want dalk sal jy dit nie eens oorleef nie. Soos 2 Korintiërs 6:2 sê: “Dit is nóú die regte tyd.”
Aangaande hierdie leesplan
Wat is die wegraping van die kerk? Watter Bybelgedeeltes vertel vir ons van die wegraping? Wat is die doel van die wegraping? Wie sal weggeraap word? Amir Tsarfati kyk na hierdie en ander vrae in dié 7-dag leesplan wat fokus op die kernvrae rondom die wegraping.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/