Die wegrapingVoorbeeld
Wat is die wegraping van die kerk?
Die Bybel verwys na die wegraping as ’n geheimenis. Wanneer Paulus die wegraping in 1 Korintiërs 15 beskryf, begin hy deur te sê: “Ek maak ’n geheimenis aan julle bekend … ” (v. 51, Bybel in Afrikaans 1982/1992). Dan skryf hy oor die oombliklike verandering van sterflike en verganklike mense na onsterflike en onverganklike wesens. Paulus skryf ook in 1 Tessalonisense 4 dat wanneer die kerk met die wegraping weggevoer word, die dooies wat aan Christus behoort eerste sal opstaan. Ons wat dan steeds op die aarde leef, sal ook weggevoer word. Ons almal sal die Here in die lug ontmoet. Nie net sal ons ons onsterflike, onverganklike liggame ontvang nie, ons sal ook na ’n nuwe plek weggeneem word.
Dit is belangrik om te besef dat die wegraping as ’n geheimenis beskryf word, nie as ’n geheim nie. Die Bybel gebruik albei hierdie terme: Geheime is dinge wat ons nie weet nie en wat God aan ons openbaar, en geheimenisse is dinge wat die Bybel aan ons openbaar wat ons verder moet ondersoek om dit te kan verstaan. ’n Geheimenis is nie iets wat versteek is soos ’n geheim nie, maar eerder iets wat verander word vanaf ’n blote skaduwee na iets verstaanbaar. In die Bybel is die grootste voorbeeld van ’n geheimenis die kerk. Dit was geen geheim dat God die nie-Jode sou red nie, aangesien talle gedeeltes in die Ou Testament dit duidelik stel (soos Jesaja 60:3; Jeremia 16:19; Amos 9:12). Wat wel ’n geheimenis is, dus iets wat verder ondersoek moet word, is dat God deur sy Seun uit die Jode en die nie-Jode “een nuwe mensheid” geskep en die muur van vyandskap tussen Jood en nie-Jood afgebreek het (Efesiërs 2:14-15 NLV).
Paulus sê ook in 1 Korintiërs 15 NLV dat wanneer Christene hulle onsterflike, onverganklike liggame ontvang, dit “in ’n oogwink” sal gebeur (vers 52). Hierdie radikale verandering van ons liggame van sterflik na onsterflik en van verganklik na onverganklik sodat ons die Here saam met dooies wat aan Christus behoort in die lug kan ontmoet, gaan so vinnig gebeur dat Christene oor die wêreld heen eenvoudig sal verdwyn. Dit sal nie ’n geleidelike proses wees nie; dit sal in ’n oogwink gebeur. Die wegraping is die wegneem van die kerk om vir ewig by die Here te wees, en dit sal oombliklik gebeur. Die Bybel beskryf die wegraping dan ook as “die wonderlike hoop” wat ons het (Tit. 2:13 NLV).
Aangaande hierdie leesplan
Wat is die wegraping van die kerk? Watter Bybelgedeeltes vertel vir ons van die wegraping? Wat is die doel van die wegraping? Wie sal weggeraap word? Amir Tsarfati kyk na hierdie en ander vrae in dié 7-dag leesplan wat fokus op die kernvrae rondom die wegraping.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://cumbooks.co.za/