Maria – ’N Vrou Van Die BybelVoorbeeld
Maria se verhaal: ’n Ma se aakligste dag
“Vrou,” het Hy sag gesê, sy lippe toegekoek met bloed, sy maer arms uitgestrek weerskante van Hom. Spykers het deur sy palms gegaan tot in die hout agter sy hande. Hy het eers na haar gekyk, toe na die jong man wat langs haar staan. “Dáár is u seun.” Die woorde het hortend gekom.
Toe het Hy vir die man gesê: “Kyk, dáár is jou ma.”
Sy wou met al haar liefde na Hom uitreik, Hom teen haar vasdruk en vir Hom sê dat Hý die seun was wat sy nodig gehad het. Sou die God wat Abraham jammer gekry het nie ook vir haar jammer voel nie? Sou Hy toelaat dat sy deurmaak wat die patriarg gespaar is – om ’n kind te offer? Haar lewe lank het sy die God liefgehad wie se engel vir haar gesê het sy is geseënd. Maar hoe kon ’n vrou wie se seun sterwend aan ’n Romeinse kruis gehang het aan haarself dink as “geseënd”?
Skielik het sy haar woorde onthou, asof ’n jonger weergawe van haarself in haar oor fluister: “Ek is die Here se dienares. Mag alles wat jy gesê het, waar word.”
Die middag het skielik pikdonker geword, maar sy kon steeds haar seun se liggaam aan die kruis sien, sien hoe sy oë na hare soek. Daar was ’n doringkroon op sy kop, ’n kru herinnering aan die kennisgewing wat die Romeinse goewerneur bo sy kop aan die kruis vasgemaak het: “Jesus van Nasaret, die koning van die Jode.”
Sy het aan die wyse manne en hulle kosbare geskenke gedink. Die goud en wierook was koninklike kosbaarhede wat hulle in Egipte help oorleef het. Sy het altyd gewonder oor die mirre. Nou het sy geweet – dit was balsemingsolie vir die koning wat hulle kom aanbid het.
“My God, my God, waarom het U My verlaat?” Sy uitroep het haar hart deurboor. Die aarde het onder haar geskud en sy het op haar knieë neergeval. My God, my God!
Teen die tyd dat Maria haar oë oopgemaak het, het die ondergaande son die stad in goud gebaai. Sy het geglimlag en die trane van haar wange afgevee. Hoe waar was die engel se woorde. Geen vrou sedert Eva was naastenby so geseënd soos wat sy, die ma van die Messias, was nie. Ja, die verlede het in haar geleef, maar dit was die toekoms wat haar met vreugde gevul het. Sy sou haar seun binnekort weer sien, en hierdie keer sou Hý haar laaste trane afvee.
Aangaande hierdie leesplan
’n Bybelstudie oor ’n vrou van die Bybel sal jou opnuut laat besef hoe lief God sy kinders het en sal jou verhouding met die Skepper verinnig. En daar is min vroue so inspirerend soos Jesus se eie ma. Ons kan soveel by haar leer. Hierdie 7-dag-Bybelstudie uit VROUE VAN DIE BYBEL deur Ann Spangler en Jean E. Syswerda is ideaal vir persoonlike studie of vir gebruik in ’n kleingroep.
More
Ons wil graag Christian Art Publishers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/