Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met WonderwerkeVoorbeeld
Ek moes as jong seun al ‘n bril dra. Toe ek ouer word het, het ek na kontaklense oorgeskakel. My grootste frustrasie was in die oorgang van seisoene, want jou oë word droog, dit krap, en dit is net een groot frustrasie. Wat erger was, was wanneer ek my kontaklense moes uithaal en nie my bril byderhand gehad het nie. Dan besef mens hoe hulpeloos jy raak wanneer jy nie kan sien nie.
Ons ontmoet ‘n man wat blind van geboorte was. Jesus en sy dissipels stap by hom verby en dan vra die dissipels die vraag wat ons soms vir onsself ook afvra, wie se skuld is dit dat hierdie man blind is?
Ons dink dadelik ek het iets verkeerd gedoen wanneer daar iets slegs met my gebeur, maar ek word herinner dat elke siekte of krankheid nie van God af is nie. Baie keer diskwalifiseer ons onsself uit ‘n wonderwerk omdat ons onsself weens ons tekortkominge of foute as minderwaardig ag.
Daar is niks, absoluut niks wat jou kan diskwalifiseer van God se plan vir jou lewe nie. Ons kan dit uitstel, maar niks kan ons skei van sy liefde nie.
Jesus antwoord sy dissipels dat hierdie blindheid niemand se skuld is nie, maar dat die werke van God in hom geopenbaar sou word. Hy sê dat Hy die lig is, en solank dit lig is, Hy God se werk moet doen.
Eerstens, ons moet tot die besef kom dat siekte, tekortkominge en omstandighede ‘n geleentheid vir Jesus is om SY krag in my lewe te wys, sodat nie net ek nie, maar ander kan glo.
Die tweede gedeelte in hierdie vers is meer van toepassing op geestelike blindheid. Die oomblik wat die vyand dit regkry om my geestelike oë te verdof of toe te maak, gaan ek hoop verloor, gaan ek hoop verloor dat Jesus nog steeds ‘n wonderwerk in my lewe wil doen. Die oomblik as ek besef Jesus is die Lig, sal die duisternis verdwyn, want waar daar lig is kan daar nie duisternis ook wees nie.
Ek het geleer, die oomblik as ek besef Jesus is die Lig, en Hy die volmaakte prys vir my betaal het, help dit my om genade vir ander mense om my te hê. Wanneer ek die volmaakte werk aan die kruis onthou, dan sien ek Jesus se heerlikheid.
Gebedsriglyn
Here, dankie dat ek weet dat daar niks is wat my van u liefde kan skei nie. Niks kan my diskwalifiseer van u plan vir my lewe nie. Ek verklaar dat Jesus die Lig sal wees in my donker omstandighede en daardie lig sal nooit deur die duisternis oorweldig kan word nie. Heilige Gees help my om nie te fokus op die duisternis om my nie, maar deur die lig van die kruis na elke omstandigheid in my lewe te kyk, en genade te hê vir diegene om my.
Aangaande hierdie leesplan
Afwagtend - 'n Lewe Gevul Met Wonderwerke. In ons lewens is daar volop geleenthede vir wonderwerke om te gebeur. Die uitdaging is gewoonlik om onsself in pas te kry met God se plan vir ons lewens sodat ons hierdie wonderwerke kan beleef.
More
Ons wil graag Volle Evangelie Kerk van God Betshalom Polokwane/Pietersburg Gemeente bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.facebook.com/betshalomchurch