Afwagtend - 'N Lewe Gevul Met WonderwerkeVoorbeeld
Ek staan daagliks in verwondering oor die spoed waarteen tegnologie vorder. Ek bedoel as jy vyftig jaar gelede gesê het 'n mens sal iemand met die druk van ‘n knoppie aan die anderkant van die wêreld kan sien, sou jy sekerlik in ‘n inrigting opgeneem word, maar vandag is dit tweede natuur om iemand met ‘n video-oproep te kontak.
In Jesus se tyd was daar natuurlik nie so iets nie. Dit het vir ‘n desperate koninklike beampte geverg om hulle amper veertig kilometer ver te haas om by Jesus uit te kom, want sy seun het op sterwe gelê.
Hy het heel waarskynlik van Jesus se wonderwerke en tekens gehoor en was op die punt dat hy niks anders meer kon doen nie en hy het geglo Jesus was sy laaste hoop. Jy kon die dringendheid in sy stem hoor toe hy Jesus vra om te kom voordat sy kind sterf.
Nadat Jesus die man se nood gesien het, antwoord Hy hom dat sy seun sal lewe, en die man het Jesus se woord geglo en huistoe gegaan. Slegs in die geloof dat dit so sal wees.
Op pad huis toe met hierdie woord van Jesus, kom een van sy knegte hom tegemoet en deel die goeie nuus dat sy seun lewe. Na verdere ondersoek besef hy dat dit presies dieselfde uur was wat Jesus die woorde van genesing uitgespreek het.
Luister na die verloop: Jesus spreek dit uit, die man glo dit nog voordat hy die resultaat kon sien, en dit gebeur.
Soms voel dit vir ons dat ons soveel hoop het, soveel beloftes het wat ons nog nie gesien werklikheid word nie. Dit is juis in hierdie tye wat ons daardie vaste vertroue het op dit wat ons hoop, op dit wat ons nog nie gesien het nie. Dit is juis dan wanneer die vyand ons probeer oortuig dat dit nie gaan gebeur nie. Ek het gevind die beste manier wat hy dit doen is deur ons sintuie – dit wat ons sien, wat ons hoor, wat ons voel.
Ek het in sulke tye ‘n geheim geleer, want sien my hart glo dit wat God spreek. My hart glo dat elke woord wat Hy uitspreek presies sal laat gebeur wat Hom behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Hy dit stuur en dit is in hierdie tye dat ek bid dat die Heilige Gees sal help dat my kop sal verstaan dit wat my hart glo. Dat dit wat ek nou beleef, nie is wat God bepaal het nie, maar dat ek nie sal ophou vertrou nie.
Dit is maklik vir ons omstandighede om dit wat ons glo te oorheers, maar ons weet dat die Woord van God altyd sal bly staan en nooit, ooit deur die wêreld oorweldig sal word nie.
Gebedsriglyn
Here, leer my om op u Woord te staan en te weet dat dit wat ek beleef nie die waarheid van wie U is kan oorheers nie, dat ek nie moed sal verloor nie, maar sal aanhou hoop, vertrou en glo in u lewende woord.
Aangaande hierdie leesplan
Afwagtend - 'n Lewe Gevul Met Wonderwerke. In ons lewens is daar volop geleenthede vir wonderwerke om te gebeur. Die uitdaging is gewoonlik om onsself in pas te kry met God se plan vir ons lewens sodat ons hierdie wonderwerke kan beleef.
More
Ons wil graag Volle Evangelie Kerk van God Betshalom Polokwane/Pietersburg Gemeente bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.facebook.com/betshalomchurch