Fokus Op VasVoorbeeld

Fokus Op Vas

DAG 6 VAN 7

Wie vas in ’n feestyd?

Johannes se dissipels het met ’n vraag na Jesus toe gekom. Hulle wou weet waarom hulle en die Fariseërs dikwels vas, terwyl die dissipels van Jesus glad nie vas nie (vers 14). Jesus se antwoord is interessant.

Jesus self het 40 dae in die woestyn gevas voordat Hy deur die duiwel versoek is. In die Bybel is daar baie voorbeelde van mense wat hulle afgesonder en gevas het om hulle aan God toe te wy. Vas beteken dat ’n mens jou afsny van jou alledaagse, menslike dinge soos voedsel, vermaak of seksuele behoeftes om jou aan God toe te wy. Dit is ’n tydperk van totale toewyding aan God, terwyl jy "nee" sê vir die behoeftes van jou liggaam. Almal wat al gevas het, sal dadelik saamstem dat dit ’n baie geseënde praktyk is. Dit is of jy die stem van die Here duideliker hoor en of geestelike deurbrake in jou lewe makliker tydens so ’n tydperk kom.

Jesus was nie teen vas nie, maar Hy antwoord Johannes se dissipels deur te sê: “Dit is tog ondenkbaar dat die bruilofsgaste sal treur solank die bruidegom nog saam met hulle feesvier” (vers 15). Waarvan praat Jesus? Hy was so besig om die feesviering van God se koninkryk uit te leef deur mense te genees en op te bou en dié wat honger is te voed dat daar nie tyd was vir sy dissipels om te vas nie. Later in hulle lewe sou hulle wel moes vas, maar nie nou terwyl hulle saam met Hom besig was met die koninkrykswerk nie. Jesus was die Bruidegom en die fees van die koninkryk was aan die gang. Om nou te vas was nie die regte ding om te doen nie.

Het jy al gevas van die alledaagse om God se stem te kan hoor?

Hierdie oordenking is geneem uit JESUS SE WOORDE VIR ELKE DAG deur Jan de Wet © Christelike Uitgewersmaatskappy.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Fokus Op Vas

Nie alle Christene het die gewoonte om gereeld te vas nie. Dit is egter van onskatbare waarde, ook in die moderne era waarin ons vandag leef. Ons gaan die volgende 7 dae kyk na wat vas is, wat dit nié is nie en hoekom dit waardevol vir alle Christene is om dit deel van hulle Christelike leefwyse te maak.

More

Ons wil graag Christelike Kunsuitgewers bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.cumbooks.co.za/