Jy Sal Oukei WeesVoorbeeld

Jy Sal Oukei Wees

DAG 6 VAN 7

Die antwoord is altyd liefde

Lees Romeine 12:15-16

Oordenking

Verhoudinge is soos toffies: Soms laat die stroopsoet lekkerte daarvan jou hart gloei. Ander kere kleef dit soos taai tameletjie aan jou tande vas – die seermaakdinge, verskille, misverstande, frustrasies. Dan kry die heerlikheid van saamwerk, saamleef en saamwees eensklaps ’n bitter smaak.

Dit is tog nie vreemd nie. Nie een van ons is volmaak nie. Inteendeel. In mindere of meerdere mate leef ons net vir onsself. Bou ons ons wêreldjie net rondom ons eie ego. En dit sal so bly totdat ons hierdie tipiese stuk menswees in onsself begin raaksien. En ons ons hart in die Vader se hande plaas sodat Hy ons minder ék en meer Hý kan maak.

Dit is dan dat ons die vermoë begin ontwikkel om anders na ons eie én na ander se gebrokenheid te kyk. Om anders daaroor te begin dink. Om op ’n positiewe, opbouende manier daarop te reageer.

Die waarheid is dat die Gees en die Woord jou regtig help om nie net perspektief oor jouself en ander te kry nie, maar om deur God se oë van liefde na jou verhoudinge te kyk. Om jouself en ander deur sy Vaderhart te sien. ’n Hart wat verstaan, aanvaar, vergewe.

Dit maak nie eintlik saak wat die vraag is nie; die antwoord is altyd dieselfde: liefde.

Mag jy in die stilte van jou hart vrede in jouself vind, en daarom ook in en deur die liefde met ander saamleef.

Stilword

Vader God , ja, die antwoord is altyd liefde. Sal U my lei om in liefde op te tree? Sodat U in my doen en late, maar ook in my woorde gesien kan word. Vandag kniel ek voor U in die diepe wete dat nie ek of enigiemand anders volmaak is nie. Ek is ook dankbaar dat ek nie volmaak hoef te wees nie omdat U genadig ís. Dankie dat u liefde geen sperdatum het nie. Amen.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Jy Sal Oukei Wees

Dié groeiplan sal jou help om God in die hier en nou te beleef. Om sy teenwoordigheid bewustelik aan te voel. Dit sal jou opnuut bewus maak van hierdie waarheid: God is hier, God is vir jou, God is naby jou. Jy kan God in die alledaagse beleef, want God neem jou aan jou hand, en God wil met jou dans! Daarom sal jy oukei wees.

More

Ons wil graag Bybel-Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://www.biblemedia.org.za/