Psalms Vir Die PandemieVoorbeeld
Asaf leer dat God nie verdwyn as moeilikheid naby is nie. Dis so belangrik om van bewus te wees. Hoor hoe sê hy dit in vers 21 en verder: “Toe ek verbitter was en veronreg gevoel het, was ek dom en sonder insig. Soos ʼn redelose dier het ek my teenoor U gedra. Tog was U nog altyd by my, want U vat my aan die hand. U lei my met U raad.”
Aangrypend. God het nie vir Asaf gesê: “Nou is jy op jou eie, meneer” nie. God het gesê: “Dis my kind daardie. My kind gaan deur ʼn diep, donker dal as gevolg van dit wat die lewe aan hom gedoen het, wat ander mense aan hom gedoen het. En hy blameer My. Ek wil graag my hart vir hom wys – my hart wat sê: "Ek verdwyn nie as moeilikheid naby is nie. Ek het nie padgegee as moeilikheid opgedaag het nie. Ek het nie geïmigreer as woede ingestap het nie. Ek is nie uit wanneer moeilikheid aan die orde van die dag is nie.” Wanneer jy onreg lei, wanneer die lewe jou onregverdig behandel, wanneer jy die slagoffer is van die hoeveelste onregverdige behandeling, wanneer jou familie jou afskryf, wanneer jy in die hoekie uitgeknikker lê en jou enigste reaksie wat oorbly is hierdie diep woede wat uit jou siel uitbars, dan sê die Here: “Ek is by jou. Ek het jou nie gelos nie."
Asaf besef dit. Hy sê: “Ek was soos ʼn redelose dier. Ek het rond gestorm en alles stukkend geskop en geslaan. En raai wat? God was by my. Hy het saam met my geloop. Hy het my hand vasgehou. Hy het my nie afgeskryf toe ek Hom afgeskryf het nie. Hy het my eintlik nog in sy genadehand vas gehou. Al is die lewe moeilik, verdwyn God nie. God is by my, al is die lewe moeilik,” sê hy dit selfs nog sterker. Hy sê in vers 25-27: “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie. Al is ek afgetakel na liggaam en gees, God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd. Dié wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig dié wat aan U ontrou is.”
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Dis nie ‘n geheim dat die pandemie nie net fisiek is nie, maar dat dit ‘n groot invloed het op ons innerlike lewe. Jy is moeg. Ook uitgeput. Jy sukkel om op take te fokus. Elke dag voel na 'n klomp gebeurtenisse wat inmekaar vloei sonder hoogte- of laagtepunte. Als is ok, maar iets ontbreek.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.mosaiek.com/