Vertrou God Te Midde Van SwaarkryVoorbeeld
Lees: Romeine 8:18–39
SOAP: Romeine 8:26
Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.
Oordenking
Soos ons vandag verder op vertroue fokus, kry ons ‘n nuwe rede om op God te vertrou: Hy ken ons harte, ons behoeftes, ons pyn en ons omstandighede so innig dat Hy vir ons bid. Hy het ‘n doel met al ons droefheid, lyding, leed en vreugde.
Te midde van ‘n seisoen van diepe pyn of verlies, kan gebed moeilik wees. Dit kan onmoontlik voel om die regte woorde te vind om ons harte teenoor God uit te stort. Terwyl ons die praktyk van weeklaag bestudeer het, het ons ontdek hoe God wil hê dat ons presies moet uitdruk hoe ons voel. Hy moedig ons aan om die moeilike vrae te vra, om ons diepste twyfel uit te spreek en ons ergste pyn te verbaliseer. Romeine 8:26 sê vir ons dat die Heilige Gees, wat self God is, ons in ons swakheid bystaan deur vir ons te bid. Wanneer ons nie weet wat om te bid nie, en selfs al weet ons, tree die Heilige Gees altyd, maar altyd, namens ons by die Vader in.
Wanneer ons ons geloof in Christus plaas, kom woon die Heilige Gees in ons. Hy is altyd met ons, altyd in staat om ons te vertroos. Die Gees deurgrond ook ons harte. Hy ken ons grootste versugtinge, ons diepste verlange, en ons onuitgesproke vrese. En Hy bid altyd vir ons! Nie net ken die Heilige Gees God se wil nie (want Hy is God), maar Hy ken ook die begeertes en verlange van ons harte. Hy kan namens ons op maniere bid wat ons nooit self sal kan doen nie. Hy bid volgens beide God se wil en die versugtinge van ons harte.
Dit is die verstommende waarheid! Wanneer ons besef dat ons innig geken word en dat daar volgens God se wil en ons eie versugtinge gebid word, kan ons duideliker sien hoe God werk. God laat inderdaad alles ten goede meewerk vir ons. Ons beswil en ons gemak is egter nie een en dieselfde nie. Ons beswil is om na Christus se beeld gevorm te word. Terwyl ons groot pyn en lyding in die proses mag verduur, kan ons glo dat God altyd tot ons beswil werk.
En ons weet dít: sy belofte om terug te keer en ons te verheerlik, is so seker as sy belofte om ons van sonde te bevry. Hy spreek ons nie net vry nie, maar hy belowe om ons te verheerlik. Ons kan met sekerheid in hierdie hoop berus, want hierdie huidige lyding kan nie vergelyk met die heerlikheid wat gaan kom nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Voel dit vir jou asof die wêreld oral om jou ineengestort het? Voel dit vir jou asof jy deur die een storm op die ander getref word? Het jy begin wonder waar God te midde van al jou hartseer is? Vriendin, jy is nie alleen in jou swaarkry nie.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/