VriendskapVoorbeeld
Dikker As Bloed
Lees: 1 Samuel 18:1-4, 1 Samuel 20
SOAP: 1 Samuel 18:1-4
Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself. Dieselfde dag nog het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy pa se huis toe terug te gaan nie. Jonatan en Dawid het 'n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself. Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel.
Oordenking
Min van ons sal daaraan dink om ‘n verbond met ons vriende te sluit! Dawid en Jonatan is ‘n goeie voorbeeld van hoe heg ‘n vriendskap kan wees wanneer dit in wedersydse liefde vir God gewortel is. Selfs toe Jonatan se pa Dawid wou doodmaak, het Jonatan lojaal gebly aan sy vriend. Dit kan baie van ons verbaas om te dink dat ons geloof van ons kan vra om meer lojaal aan ons vriende te wees as aan ons familie! Die Nuwe Testament voer hierdie voorbeeld selfs nog verder. God se volk word nie meer gedefinieer deur geboorte in die etniese volk Israel nie, maar deur aanvaarding in God se familie.
Ons vriendskappe met gelowiges behoort anders te lyk as ons ander verhoudinge omdat ons ‘n gemeenskaplike doel het. Ons is geroep om ons lewens so te lei dat dit na die koninkryk van God wys, om Hom met ons lewens te verheerlik, en om ‘n vermoeide wêreld die Goeie Nuus van die evangelie te vertel. Net soos in Jonatan se geval kan ons getrouheid aan God spanning in ons gesinne veroorsaak, maar hy het die gawe van ‘n godvresende vriend gehad. Ons kan vertroosting vind in die ewige gesin waarin ons opgeneem is.
Gebed
God, dankie dat U my deel van u gesin gemaak het! Help my om net soos Jonatan vir Dawid, my vriende te beskerm en vir hulle te veg. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Ons is geskep vir gemeenskap en vriendskap. God het die mensdom geskep in die konteks van 'n verhouding met Homself en met ander. Al lyk dit eenvoudig en pynvry om alleen deur die lewe te gaan, is ons bedoel om in gemeenskap te wandel. Ons kan nie sonder mekaar oorleef nie. Die manier waarop ons vir mekaar omgee en mekaar se laste dra, toon Christus se liefde aan die wêreld.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com